Almal kan SA nou só aanlyn bemark
2009-12-04 01:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Suid-Afrikaners kan nou met inskrywings in ’n aanlyn-reisgids hul land vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi bemark.
Writing Travellers, ’n aanlyn-reisgids oor bestemmings regoor die wêreld, wil sy Suid-Afrikaanse gids verbeter vir mense wat die land tydens dié toernooi gaan besoek.
Volgens mnr. Bart van Slobbe, ’n Writing Travellers-vennoot, kan enigiemand artikels vir die webwerf skryf.
“Ons wil hê baie Suid-Afrikaners moet vir ons skryf.”
Dié webwerf is in Augustus 2007 bekend gestel, maar die meeste inligting oor Suid-Afrika is eers die laaste ses maande opgelaai, het hy vanuit Utrecht in Nederland gesê.
Volgens hom is daar reeds ywerige skrywers, onder wie Suid-Afrikaners én besoekers aan die land, en nuwe inligting word byna daagliks bygevoeg.
Reisigers kan die inligting gratis van die webwerf aflaai. Jy kan boonop ’n reisgids vir jouself skep deur byvoorbeeld aan te dui na watter provinsie of stede jy gaan. Writing Travellers stel dan ’n persoonlike gids vir jou saam.
Skrywers word nie vergoed nie. “Maar hulle kan hul land bemark en hul name verskyn daarby,” het Van Slobbe gesê.
* Besoek die webwerf bywww.writingtravellers.com.
- Beeld