Amor weier om oor Joost te praat
2010-08-08 22:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
“Ek gaan nie oor Joost praat nie.”
Dit was gister kort en bondig die kommentaar van die sangeres Amor Vittone nadat haar man, die oud-Springbok Joost van der Westhuizen, Donderdag ’n egskeidingsdagvaarding aan haar laat beteken het.
Alle partye het ontken dat die opsienbarende Joost-seksvideo iets met die egskeiding te doen het.
Daar is eerder ’n derde party en beheer oor die egpaar se twee kinders ter sprake.
Vittone se prokureur, mnr. Claudio Bollo, het gisteraand gesê hy dink Vittone is reg om nie oor Van der Westhuizen te praat nie.
“Hy is en bly immers die pa van haar kinders.”
Gevra oor die geheimsinnige derde party wat in die egskeiding genoem word, het Bollo gesê hy kan nog nie die meriete van Vittone se saak bespreek nie, omdat sy nog nie formeel ’n beantwoordende verweerskrif teen Van der Westhuizen se dagvaarding opgestel het nie.
“Wat ek wel kan sê, is dat daar baie verskillende bewerings in Joost se dagvaarding gemaak word.
Amor sal haar weergawe van daardie bewerings volledig in haar verweerskrif gee.
Tot dan kan ek geen nadere kommentaar lewer nie.”