Angs in hangkas
2012-01-23 22:32
Hulle moes ’n bruilof reël. Nou reël hulle ’n begrafnis.
Die swanger voornemende bruid en haar verloofde het in die vroeë oggendure op ’n hoewe buite Brits weggekruip en gehoor hoe twee rowers haar ma aanrand en haar pa skiet.
Me. Yolandi van der Linden (27) en mnr. Gerhard Coetzee (26) het vir hul lewe gevrees terwyl die rowers mnr. Frans (57) en me. Elizabeth (52) van der Linden Sondag omstreeks 03:00 aangerand het.
Van der Linden sr. het later aan sy skietwonde, in die bors en regtersy, beswyk.
Van der Linden jr. en Coetzee sou eerskomende Saterdag trou en haar ouers het van Lichtenburg af Brits toe gekom om die laaste bruilof-
reëlings te tref.
Die vier het op Coetzee se ma, me. Jackoline Botha (61), se hoewe in Rashoop, sowat 13 km van Brits, oornag. Me. Botha was nie tuis nie.
Die betraande paartjie het gister gesê dat hulle nou pleks van ’n troue ’n begrafnis moet reël.
Coetzee het gesien hoe die rowers sy aanstaande skoonpa in die gang aanrand met iets wat soos ’n knuppel lyk voordat hulle hom in ’n kamer ingeboender het.
Coetzee het hul kamerdeur toegetrek en onder die bed gaan wegkruip, terwyl me. Van der Linden in die klerekas geskuil het.
“Ons het gehoor hoe gil hulle op my pa-hulle: ‘Waar is die geld? Waar is die geld?’, en toe hoor ons twee skote.
“Ná die bakleiery het als doodstil geword en ek het gewonder of altwee dood is of wat hulle nou met my ma doen,” het Van der Linden jr. gesê.
Nadat die rowers gevlug het, het mnr. Van der Linden by
sy dogter se kamer ingestrompel om te hoor of hulle beseer is.
“Hy het op ons bed gelê en bloei en na sy asem gesnak. Ons het so magteloos gevoel. Ek kon niks doen om hom te help nie,” het Coetzee gister in trane vertel terwyl hy sy verloofde troos.
Die polisie, ’n veiligheidsmaatskappy en ambulansdiens was gou op die toneel nadat ’n buurvrou die noodknoppie gedruk het.
Mnr. Van der Linden is egter in die ambulans dood.
Sy vrou is met die knuppel op die bene geslaan.
Die rowers het met ’n beursie, selfoon en twee horlosies gevlug.
Van der Linden jr. het gesê dit voel of sy enige oomblik wakker gaan word en dan is haar pa weer daar om haar uit die nagmerrie te kom haal.
“Hoekom moes hulle my ouers seermaak? Kon hulle nie net gevat het wat hulle wou hê en geloop het nie?”
Die paartjie sê mnr. Van der Linden het daarna uitgesien om ’n nuwe kleinding in die familie te hê.
“My pa was ’n liefdevolle man wat op sy gelukkigste was as sy vrou en kinders gelukkig was.
“My pa is my held en ek gaan hom ongelooflik baie mis,” het Van der Linden jr. gesê.

Mnr. Frans van der Linden (57)