Balie-baas kap wet wat hof ‘demoveer’
2010-09-06 22:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Konsepwysigingswet aan die Grondwet van 2010 kom neer op die “agteruitgang” van die bevordering van regspleging.
So waarsku adv. Patric Mtshaulana SC, voorsitter van die Algemene Balieraad van Suid-Afrika (ABR), die oorkoepelende beheerliggaam van die advokatuur in die land.
Mtshaulana sê in die jongste uitgawe van Advocate , die Suid-Afrikaanse balietydskrif, dat die wysigings wat die regering in die konsepwet aan die regspleging wil aanbring, klaarblyklik eerder daarop gemik is om magte aan howe toe te ken en weg te vat as op die bevordering van die regspleging, veral ten opsigte van miljoene arm mense wat beswaarlik regsgedinge kan bekostig.
Een van die bepalings van die beplande wysigings is dat die konstitusionele hof as die enigste hoogste hof in die land beskou word.
Tot dusver is dié hof net die hoogste hof wat grondwetlike aangeleenthede betref.
Vir alle ander regsaangeleenthede is die appèlhof die hoogste hof in die land, maar Mtshaulana sê die konsepwet demoveer die appèlhof as’t ware tot ’n soort tussengangerhof omdat die konstitusionele hof in die konsepwet die reg kry om álle beslissings van die appèlhof op appèl aan te hoor.
Die konstitusionele hof is dus nie meer net beperk tot appèlle uit die appèlhof wat gegrond is op grondwetlike aangeleenthede nie.
“Wat ons land nodig het, is veranderinge wat daarop gemik is om te verseker dat ... die armstes van die armes, dié mense wat in die laer howe litigeer, ’n beter kans kry om hul regsprobleme opgelos te kry sonder die nodigheid van ’n appèl.
“Die konsepwet doen niks om ’n beter stelsel in die laer howe daar te stel nie.
Inteendeel, dit stel nou nóg ’n hof (die konstitusionele hof) as ’n hof van appèl in alle sake aan.”