Bandebedryf hof toe
2012-01-24 21:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kaapstad.?–?Die departement van omgewingsake moet Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg sy besluit verdedig om ’n nuwe multimiljoenrand-afvalbandeherwinningsplan aan ’n betreklik onbekende organisasie toe te ken.
Me. Edna Molewa, minister van omgewingsake, het verlede week aangekondig Redisa sal van 1 Februarie landwyd eksklusief vir die verwydering en herwinning van afvalbande verantwoordelik wees.
Dié organisasie sal gefinansier word deur ’n heffing van R2,30/kg wat van 1 Februarie op alle nuwe bande gehef sal word.
Beeld verstaan Redisa kan tot R630 miljoen per jaar invorder.
Die plaaslike bandebedryf sê egter hy is nie genader om die Redisa-plan te help ontwikkel nie.
Dié bedryf werk reeds die afgelope 12 jaar aan sy eie herwinningsplan, die SATRP-plan.
Dr. Etienne Human, hoof van die South African Tyre Recycling Process Company (SATRP), sê in hofstukke dié plan het die bedryf tot dusver tot R8 miljoen gekos, met die goedkeuring van die Mededingingskommissie en die nasionale tesourie.
Die bandebedryf het SATRP op versoek van die regering gestig.
Human sê tot Mei verlede jaar was die departement van omgewingsake tevrede met die SATRP-plan, wat die departement help opstel het.
“Van Augustus verlede jaar was daar geen kommunikasie meer van die minister af nie ... In November is die plan skielik afgekeur.”
Die Redisa-plan is ontwikkel en word bestuur deur mnr. Hermann Erdmann. Hy was tot middel verlede jaar ’n direksielid van die kleinhandelvoertuigbedryfsvereniging (RMI).
Beeld verneem egter van drie betroubare bronne wat anoniem wou bly dat die RMI Erdmann verlede jaar ondersoek het nadat R650 000 vermis geraak het.
Erdmann het uit die RMI bedank nadat ’n mosie van wantroue in hom daaroor aanvaar is.
Mnr. Riaan van Niekerk, verteenwoordiger van Pirelli in Suid-Afrika, het gesê daar was ’n hofsaak om geld wat Erdmann aan dié maatskappy skuld, te verhaal.
Erdmann het by navraag gesê die Redisa-plan is in Julie verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer en van vroeg 2009 op verskeie forums bekend gestel.
Human het gesê dis bog.
“Al wat in die Staatskoerant gepubliseer is, was dat die departement beplan om die Redisa-plan te publiseer. Dit het nie gebeur nie.”
Mnr. Mike Stratford, besturende direkteur van Kwikfit, het gesê Erdmann het op amptelike dokumentasie beweer hy (Stratford) en Kwikfit steun die Redisa-plan.
“Dit is onwaar.”
Mnr. Jeff Osborne, uitvoerende hoof van die RMI, wou weet: “In watter hoedanigheid het Erdmann die Redisa-plan ontwikkel en bekend gestel? Volgens die voorwaardes van Redisa moet Erdmann totaal onafhanklik van die bedryf wees.”
Human het gesê tot 85% van die rolspelers in die Suid-Afrikaanse bandebedryf steun die SATRP-plan reeds.
Mnr. Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, wou nie kommentaar lewer nie.