Bees nooit in ontkleeklub, sê stut se prokureur
2010-09-05 22:20
“Ons sal ons praatwerk in die hof doen.”
Só het mnr. Rudi Krause, regsverteenwoordiger van die Blou Bul-stut Bees Roux (28), wat teregstaan weens die moord op sers. Ntshimane Johannes Mogale (38), ’n lid van die Tshwane- metropolisie, gister gesê.
Krause het namens Roux ontken dat hy “hoegenaamd ooit” minute voor die voorval op 27 Augustus of in die verlede in die ontkleeklub Flamingo’s was.
Hy wou nie verlede Woensdag daarop gereageer het toe die bewerings deur Beeld onder sy aandag gebring is nie.
Krause het verlede week ook geweier dat Roux met Beeld praat.
Twee bronne het verlede week teenoor Beeld beweer Roux was in Flamingo’s “met sy dronk lyf” minute voordat hy na bewering vir Mogale doodgeslaan het.
Daar is ook beweer Roux het aan ontkleedanseresse gesê hy is “’n Blou Bul”.
Albei bronne hou steeds vol dat Roux dié gewraakte nag in die ontkleeklub was.
Mnr. Pieter Crous, eienaar van Flamingo’s, het gister aan Beeld gesê dat hy “dié ou nie op my klub my kringtelevisie gesien het nie”.
Dit kom nadat Crous verlede week aan Beeld bevestig het dat van sy dansers wel vir Roux dié nag in die klub gesien het.
Nou sê Crous sy ontkleedansers het iemand gesien wat “soos Roux gelyk het”.
Roux kan nie op Flamingo’s se kringtelevisie-beeldmateriaal geïdentifiseer word nie.
Crous het Vrydagnag aan Beeld gesê lede van die Tshwane-metropolisie is agter hom aan nadat hy verlede week verduidelik het hoe metropolisielede sy kliënte, asook personeel, in die oggendure inwag sodat hulle omkoopgeld moet betaal.
Roux het na bewering ook in die hande van korrupte metropolisielede geval.
Sy kredietkaart is by ’n kitskosplek gebruik nadat hy reeds in hegtenis geneem was, het die Pretoriase landdroshof tydens Roux se borgtogaansoek gehoor.
Krause het in die hof aangevoer Roux gaan skuld op die moordklag ontken en was ’n “slagoffer van diefstal of poging tot diefstal”.
By Beeld se besoek aan die Flamingo’s Vrydag was daar teen 02:00 geen teken van metropolisielede om of naby die klub nie.
Roux staan ook tereg op ’n aanklag van dronkbestuur.
Geen bloed- of blaastoetse vir dronkbestuur is ná sy inhegtenisneming op hom gedoen nie.
Hy is ná ’n naweek in aanhouding by die Sunnyside-polisiekantoor verlede Maandag op borgtog van R100 000 vrygelaat.