’N 84-jarige wewenaar is gister met moontlike
inwendige bloeding in die Krugersdorp-hospitaal opgeneem nadat drie rowers hom
helder oordag in sy huis oorval en erg aangerand het.
Die bende, vermoedelik lede van ’n sindikaat wat volgens Beeld se inligting verlede maand sowat 14 ander huise in die
omgewing geteiken het, het mnr. Hannes van der Merwe met ’n mes aangeval,
aangerand en tot op die grond gedwing voordat hulle met sy horlosie en kleingeld
gevlug het.
Mnr. Gerhard Coetzee (35) het gesê ’n rower het sy oupa omstreeks
07:20 in die voorportaal oorval.
Twee van die man se makkers het terselfdertyd vensterruite aan die
voorkant van die huis uitgeskop en die huis binnegestorm.
Nero, Van der Merwe se boerboel, het probeer om tot sy baas se
redding te kom, maar die boewe het hom hard teen die kop en voorpote
bygedam.
Van der Merwe kon een van sy aanvallers ’n harde skop tussen die
bene gee en vergeefs na ’n kierie probeer gryp.
Volgens Coetzee het een rower op Van der Merwe se kop getrap terwyl
sy makkers die pensioentrekker se hande vasgebind het.
Sowat vyf minute voor die aanval het Van der Merwe sy een dogter,
me. Corrie van Zyl (61), gebel om te sê hy gaan na ’n winkelsentrum daar
naby.
“Dit het blykbaar alles verskriklik vinnig gebeur,” het Coetzee
vertel.
“Die ou het hom gegryp voordat hy die veiligheidsdeur kon
haal.”
Mnr. Johan Otto, ’n buurman, het gelukkig die rumoer gehoor en die
plaaslike sektorpolisie ontbied toe hy een van die rowers gewaar.
Dié het binne minute ná die noodoproep in drie voertuie by die huis
opgedaag.
Die rowers het oor die bure se muur geskarrel en probeer vlug, maar
twee verdagtes is aangekeer.
Volgens ao. Solomon Sibiya, polisiewoordvoerder, is die toneel met
snuffelhonde gefynkam en word daar vermoed tot ses rowers was betrokke.
Coetzee het gesê hy het dikwels in die verlede aan sy oupa
gekarring om eerder saam met hom in Tarlton te gaan woon. Die huis, wat Van der
Merwe tussen 1983 en 1991 met sy vrou gedeel het, het egter baie sentimentele
waarde.
“Hulle het sedert ’83 nie eens ’n blommetjie hier gesteel nie,” het
Coetzee geskok gesê. “My oupa was baie geskok toe ek hier aankom en het blou
merke regoor sy kop gehad. Hy het eers nie besef hy is gewond nie – maar toe hy
sy hand oplig, sien ek net ’n moerse klomp bloed?.?.?.”
Volgens Coetzee bloei Van der Merwe moontlik inwendige en kla hy
oor ’n steekpyn in sy rug wanneer hy asemhaal. Hy het moontlik ook
harsingskudding opgedoen. Hy was teen laatmiddag in ’n bestendige
toestand.
Sy vier dogters en bekommerde familielede van sover as Standerton
het gister by die hospitaal vergader om op nuus te wag.