Bende se moses
2010-08-24 22:19
’n Taksidermis het gister twee van die Wes-Rand se mees gesoekte misdadigers doodgeskiet, terwyl hy self in die voet gewond is.
Nog twee vermeende lede van die bende wat binne drie dae vier rooftogte uitgevoer het, is vasgetrek.
Mnr. Jacques Fouché (36) van Randfontein het vertel hy het gister by sy huis in Firstraat, Green Hills, ’n kliënt, ene JJ van Mauritius, gehelp om opgestopte bokkoppe, velle en skedels na dié se Audi A4 te dra.
“Toe ons terugstap, het ek opgemerk hoe twee mans op ons afstap.
“Ek het in my bakkie ingebuk om die afstandbeheerknoppie te druk en die hek toe te maak, toe is hulle op ons.”
Die rowers het Fouché en JJ na die werkkamer agterin die erf geneem waar hulle ’n werker, ene Jacob, verskeie kere met die vuis toegetakel het.
Die drie mans moes op die vloer lê en hul hande is agter hul rug vasgebind.
Hulle is van waardevolle items gestroop.
“Nog twee mans het ingekom en ’n sak met ’n R5-geweer te voorskyn gebring.
Ek is gewaarsku om nie kanse te vat nie terwyl een rower die R5 voor my rondgeswaai het.
Hulle het my daarna alleen in die huis na die hoofslaapkamer gevat.”
Die kluis was toe reeds oopgesluit.
Die rowers wou weet waar Fouché geld en sy pistole versteek.
Fouché is die heeltyd met die R5 oor die kop gemoker terwyl hy vasgebind op sy bed aangehou is.
“Van die mans het skielik ingehardloop gekom en geskreeu hulle moet padgee.
Ek weet nie wat gebeur het nie, maar vermoed Jacob het dalk losgekom en oor die muur na die bure gespring om hulp te kry.
“Toe is ’n veiligheidsmaatskappy ontbied.”
Fouché het hom losgewikkel en ’n haelgeweer gegryp. Toe hy wou skiet, wou die geweer nie afgaan nie.
Met ’n tweede haelgeweer is hy by die huis uit. Twee van die rowers het teruggedraai en op hom losgebrand.
“Toe ek sien hulle kom terug, moes ek na die stoep toe hardloop en agter die heining skuiling vind.”
Fouché het van die stoep op die mans naby die Audi geskiet. Een het vanuit die motor op hom geskiet.
Op pad om agter sy bakkie te gaan skuil is hy in die regtervoet getref.
“Ek het bly terugskiet en daarna net agter die bakkie bly sit totdat die skote opgehou het.”
Die twee agterste vensters van die Audi A4 is flenters geskiet.
Een rower se lyk het buite die voertuig op die teerpad gelê. Sy makker s’n was op die bestuurdersitplek.
Volgens kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, het ao. Peet Venter, wat in die omgewing woon, vinnig gereageer toe hy die skietery hoor en polisielede ontbied.
“Nog twee rowers is in die veld en in die (naburige) meenthuiskompleks aangetref. Ons het twee 9 mm-pistole in die voertuig gevind.
Nog ’n 9 mm-pistool is in die veld en ’n R5-geweer in die meenthuiskompleks gevind.
“Hulle is beslis onder die mees gesoekte misdadigers in die streek,” het Ernst bygevoeg.
Fouché sal na verwagting vandag ’n operasie ondergaan om die 9 mm-koeël uit sy voet te laat verwyder.
Misdaadspoor
Dieselfde rowers het vroeër die oggend ’n vrou van Noordheuwel in Krugersdorp in haar huis oorval en van verskeie huishoudelike items en rekenaartoerusting beroof.
Dit is in die kattebak van ’n silwer Volvo op die skiettoneel gevind.
Volgens die polisie het dieselfde bende Sondag by ’n huis in Nightingalestraat in Greenhills toegeslaan en Maandag by Captain Liquor in Aureus, ook in Randfontein.