Beroof kort ná hul in SA land
2010-06-09 22:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Drie Chinese joernaliste is eergister saam met hul Suid-Afrikaanse begeleider op pad na Soccer City van ’n kamera beroof sowat ses en ’n half uur nadat hulle in die land aangekom het.
In ’n ander voorval is die hoofkontrakteur van ’n Koreaanse uitsaaimaatskappy Vrydag in ’n toilet by die Carlton-sentrum in die Johannesburgse middestad van sy paspoort en $1 500 beroof.
Die Dong-A Ilbo-koerant het op hul webwerf berig die 38-jarige man is deur drie mans in die badkamer oorval en verwurg totdat hy sy bewussyn verloor het.
Toe hy bygekom het, het hy ontdek sy paspoort en ander besittings is weg.
Op die nuuswebwerf The Chosun Ilbo word ook berig dat ’n kultuurprogram-regisseur van SBS TV byna in sy motor in Johannesburg beroof is.
Die webwerf berig die man het in sy motor gesit en wag vir ’n verkeerslig om te verander toe iemand sy ruit stukkend geslaan en hom probeer beroof het.
Die rooftog het misluk.
Volgens mnr. Barrie Swart, wat Di Wanyong (27) en Pan Yan (29), verslaggewers, en Wu Fang (46), fotograaf, begelei terwyl hulle in Suid-Afrika is, was hulle omstreeks 15:45 op pad na Soccer City om foto’s te neem toe die voorval gebeur het.
Die mans is almal van die Xin’an Evening News en dit is hul eerste keer in Suid-Afrika.
Hulle was almal ’n bietjie huiwerig om Suid-Afrika toe te kom oor die veiligheidsituasie.
Swart het gesê hulle het agter ’n ander motor by ’n rooi verkeerslig, sowat 4 km van Soccer City af, stilgehou toe twee mans die motor nader.
Die mans het by die ruit aan die bestuurderskant van die motor kom staan en kameras, selfone en beursies geëis of “ons maak julle dood”.
“Een van die mans het sy pet oor sy hand gehad so asof hy ’n wapen het. Ek het egter nie ’n wapen gesien nie, maar vir die mans gesê om kalm te bly en hulle goed vir die mans te gee sonder om te stry,” het Swart gister aan Beeld gesê.
Volgens hom het hy vir tyd gespeel deur te maak of hy na sy kosbare items soek. Hy het weggejaag toe die lig groen word en die motor voor hom wegtrek.
Die mans kon slegs ’n Canon-kamera buit.
Swart het gesê hoewel die Chinese baie geskok en vreesbevange is sal hulle in die land aanbly tot hulle op 14 Julie terugvlieg.
“Die grootste bekommernis aan die Chinese se kant was veiligheid eerste, maak nie saak wat daarna gebeur nie; stories kom tweede. Hulle was duidelik geruk,” het Swart gesê.
Die mans het ná die voorval omgedraai en na ’n Toyota-handelaar gery waar hulle aanwysings na die naaste polisiekantoor gevra het.
Swart het toe na die Parkview-polisiekantoor gery om die saak aanhangig te maak.
Lt.kol. Leon Engelbrecht van die nasionale gesamentlike operasionele sentrum kon nie gister dié voorvalle bevestig of ontken nie.