Besmette kos eis 12 honde
2011-04-24 21:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Minstens 12 honde is reeds dood nadat hulle vermoedelik besmette droë hondekos geëet het.
Een eienaar het vier honde binne twee dae verloor.
Veeartse in Pretoria meen meer honde is dalk dood, aangesien dié 12 net die voorvalle is wat die akademiese hospitaal van die fakulteit veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria by Onderstepoort van weet.
Dit blyk ’n mikotoksien, veroorsaak deur ’n fungus wat tot lewerversaking lei, kom in kos van drie minder bekende handelsmerke voor.
Dit lei tot aflatoksikose.
Afhangend van die hoeveelheid wat die dier inkry, lei dit tot lewerprobleme, kanker of ’n pynlike dood.
Prof. Banie Penzhorn, besturende direkteur van die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Vereniging, het veeartse in ’n e-pos oor ’n uitbreking van aflatoksikose gewaarsku.
Hy het gesê etlike siek honde is met geelsug-simptome en bloeding in die akademiese hospitaal by Onderstepoort opgeneem.
Nadoodse ondersoeke het aangedui aflatoksikose is heel moontlik die oorsaak van hul dood.
“Voorbeelde van dié kosse is vir toetse gestuur. Uiters hoë konsentrasies van aflatoksiene is bespeur.
“Die verdagte hondekos is nie ’n welbekende handelsmerk nie,” lui die e-pos.
Mnr. Barry Hundley, uitvoerende direkteur van die Vereniging van Troeteldierkosvervaardigers van Suider-Afrika, het gesê hulle is ingelig oor die 12 sterftes wat van verlede Sondag tot Woensdag voorgekom het.
“Ons probeer bepaal of daar meer gevalle by private veeartse aangemeld is.
Sover blyk dit dat die voorvalle net in Gauteng voorkom.”
Hundley het verduidelik die fungus wat die toksiene veroorsaak, kan plantaardige gewasse soos grane, oliesade en neute besmet.
“Gewoonlik is die besmetting die gevolg van slegte oestegnieke of swak berging.
“Dit kom dus in kosse voor as van die bestanddele besmet is, of as die produk ná produksie verkeerd gehanteer of geberg word.”
Omdat die sterftes klaarblyklik ná Woensdag opgehou het, vermoed Hundley die probleem het dalk net in ’n sekere besending van die kos voorgekom.
Die troeteldierkosbedryf en die departement van landbou is daaroor ingelig en het reeds voorbeelde van die hondekos by die fabrieke versamel om te toets, het Hundley gesê.
Hy het eienaars gewaarsku as hul honde van dié besmette kos inkry, sal dit reguit na die dier se lewer gaan.
“Die hond voel lusteloos, depressief, naar en eet nie. Sy tandvleis sal geel wees. ’n Mens kan aanvaar dat dit pynlik is.
Dit is ook nie ’n ‘maklike’ dood nie. Eienaars moet oor dié gevaar ingelig word sodat hulle hul diere dadelik na ’n veearts kan bring omdat al die aangemelde sterftes binne ure voorgekom het.”
Volgens veeartse wat nie geïdentifiseer wil word nie, kom die toksiene na bewering in Hi-Pro-, Buddies- en Legends-hondepille voor.
“Sover ek weet is dié vervaardigers oor die probleem ingelig en gevra om die produkte van die mark te verwyder,” het een gesê.
’n Ander meen die verdagte kosse moet geïdentifiseer word sodat eienaars gewaarsku kan word.
“My kliniek en dié van kollegas het ’n paar sterftes die afgelope week gehad en ons weet sekere van die nadoodse ondersoeke het getoon dat dit weens aflatoksikose was,” het ’n ander gesê.
Die meeste gevalle kom volgens hulle klaarblyklik in Pretoria, veral die noordelike voorstede, en moontlik Johannesburg voor.
“As jou hond siek word, gaan dadelik veearts toe en vat sy kos saam sodat dit getoets kan word.
“Selfs al gaan die dier nie dood nie, kan langtermyngebruik ook skadelik wees,” het hulle gewaarsku.