‘Bespreek vir hulle ’n tronksel’
2010-09-03 22:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kaapstad. – Me. Sindi Chikunga, vuurvreter-ANC-LP, het gister in die parlement gesê hoofde van die polisie se voorsieningsbestuurseenheid hoort agter tralies vir die ergste graad van wanbestuur wat sy nog teëgekom het.
Lt.genl. Hamilton Hlela, nasionale adjunkpolisiehoof, en twee van sy ondergeskiktes – lt.genl. Matthews Siwundla en genl.maj. Stephanus Terblanche – het skielik bedank te midde van ’n ondersoek na die polisie se verkrygingsprosedures.
Dié ondersoek deur die presidensie se spesiale ondersoekeenheid (SOE) behels miljarde rande se saketransaksies wat van Januarie 2005 tot 10 Augustus vanjaar beklink is. Dit het betrekking op polisiebeamptes en diensverskaffers wat saamgewerk het om hulself te verryk en moet eindelik tot strafregtelike aanklagte, tugoptrede en beslagleggings lei.
’n Slangput van verdagte huurkontrakte, bouprojekte en tenders vir goedere en dienste het gister ter sprake gekom toe genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof en ’n senior afvaardiging, voor die portefeuljekomitee oor polisie verskyn het. Cele en sy topbestuurslede kon egter nie veel lig hierop werp nie en nie Hlela, Siwundla of Terblanche was teenwoordig nie omdat hulle die polisiediens reeds verlaat het.
“Hulle moes hier gewees het om ons vrae te beantwoord en daarna by die naaste polisiekantoor gaan aanmeld het. Hulle behoort ’n tronksel te bespreek, want wat ons vandag hier aangehoor het, getuig van die ergste graad van wanbestuur waaraan jy kan dink.
“Dit is ontmoedigend en walglik,” het Chikunga uitgevaar.
Speurders van die SOE was teenwoordig toe Cele gebieg het oor vreemde transaksies waaroor Hlela, as nasionale hoof van voorsieningsbestuur, toesig gehou het. Hieronder tel:
- ’n Bestelling vir nege waterkanonne van R47 miljoen nadat WB 2010 reeds verby was. Dit moet uit die begroting vir polisievoertuie kom en Cele probeer dié transaksie nietig verklaar. “Ons het reeds tien waterkanonne. Ek het die provinsiale hoofde hieroor uitgevra en volgens hulle het Hlela gesê ons het dit nodig.”
- Die kontrak om die polisie se hoofkantoor in Wachthuis in Pretoria te huisves, is op 28 Julie 2009 – ’n dag vóór Cele se aanstelling – met 10 jaar verleng. Cele het dit eers vier maande later uitgevind. “Hlela het vergeet om my te sê.”
- ’n Kontrak van R12 miljoen om Cele en mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, se kantore in Wachthuis op te knap. “Ek wou weet hoekom moet die polisie hiervoor betaal as die gebou nie aan ons behoort nie.” Dit het voorts in die vergadering aan die lig gekom dat Hlela in April 2006 ’n “onverklaarbare” ooreenkoms met die departement van openbare werke gesluit het om nuwe polisiekantore sélf te bou – terwyl die polisie nie die kundigheid het nie en sedert 2007 tot R43,8 miljoen aan projekkonsultante bestee het. Net vier nuwe polisiekantore is in dié tyd gebou, waaronder:
- Die Inanda-polisiekantoor in KwaZulu-Natal waarvan die bouwerk ses jaar geduur het. Die koste het met 270% gestyg van R15,9 miljoen tot R43 miljoen teen die 2009-’10-boekjaar.
- Die Esakheni-polisiekantoor by Newcastle. Die bouwerk het drie jaar geduur en die koste het van R10,6 miljoen tot R23,9 miljoen gestyg.
Volgens me. Annelize van Wyk, ANC-LP, is gierigheid die enigste verklaring vir die ooreenkoms met die departement van openbare werke. “Dit was om die heuningpot se deksel af te haal sodat mense hul vingers daarin kon druk.”