‘Bid, want ek skiet jou nou,’ sê smalende rower
2010-03-18 23:16
“Bid, want ek skiet jou nou!”
Só het ’n rower gesê toe hy sy vuurwapen teen mev. Corene Benade (42) se kop gedruk het net voordat hy en sy makkers gevlug het.
Hy het toe uitgebars van die lag en met ’n “ek maak net ’n grappie” koers gekry.
“Trauma op trauma,” het Benade, van die Rietspruit-kleinhoewes in die Vaalrand, gister die twee uur lange gewapende rooftog op haar beskryf.
Die huisrooftog eergister toon sterk ooreenkomste met die voorval waartydens me. Hannetjie Benade (70), Benade se skoonma, in November 2008 net buite Henley-on-Klip beroof en vermoor is voordat haar hoewehuis aan die brand gesteek is.
Beeld het destyds berig hoe ’n buurman op 29 November daardie jaar op die bejaarde vrou se half verkoolde lyk afgekom het.
Volgens Benade het die huisrowers haar en twee werknemers, mnre. Mutle Mvunwla en Jacob Phuti, eergister skuins voor 09:00 oorval.
“Vanaf daardie oomblik was ek in dieselfde hel as my skoonma en het ek aanhoudend hardop gebid,” het sy gesê.
Die rowers het herhaaldelik gedreig om haar te verkrag, te vermoor en die hoewehuis af te brand.
Die rowers het ook gedreig om haar met ’n strykyster te brand en met ’n boormasjien gate in haar nek te boor.
Sy het die rowers R700 gegee en haar man, Johan (49), se wapenkluis oopgesluit.
Mnr. Benade was uitstedig en hul kinders, Chantelé (15) en Johan jr. (9), by die skool.
Die rowers het op meer geld aangedring en selfs met ’n hoekslyper nog ’n kluis, waarvan Benade nie die slotkode geken het nie, oopgesny.
Dít terwyl sy op haar knieë steeds hardop gebid en die rowers een van mnr. Benade se wapens teen haar kop gedruk het.
“Hulle het gesê ek moet ophou (bid), maar Ons Hemelse Vader het my in Sy arms toegevou. Hulle kon hulself nie sover kry om my te brand, vermoor of te verkrag nie. Selfs die boormasjien is my gespaar.”
Die rowers is kort daarna weg met onder meer die geld, selfone en juwele en haar man se drie jaggewere.
Mnr. Benade was in Randfontein en het besef “iets is nie pluis nie” toe hy Mvunwla bel omdat sy vrou nie haar selfoon antwoord nie. Mvunwla, wat heeltyd saam met Phuti in die gang vasgebind gelê het, het hom fluisterend gewaarsku.
“Ek het ons buurman, mnr. Des Long, gebel en hy het my vrou, wat haarself intussen bevry het, te hulp gesnel.”
Die Kliprivier-polisie was, volgens die Benade-egpaar, “binne minute” op die hoewe en verdien ’n pluimpie vir hul knap optrede.
“Ons het nog nie eers die wrede moord op my skoonma verwerk nie, haar moordenaar(s) is nog op vrye voet en nou dit.
Dis trauma ná trauma,” het mev. Benade gesê.