Bloedneus vir onreg
2010-02-27 05:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Geen staatsdepartement mag voortaan ’n pos vakant laat eerder as om dit met ’n bekwame wit mens te vul nie.
Dít is een van die verreikende implikasies van gister se uitspraak in die arbeidshof in Johannesburg waarin die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) opdrag gekry het om kapt. Renate Barnard tot superintendent (luitenant-kolonel volgens die nuwe range) te bevorder. Die polisie het haar dié bevordering jare lank geweier omdat ’n wit aanstelling in die betrokke poste sy transformasieteikens in die gedrang sou bring.
Barnard het haar saak met die hulp van die vakbond Solidariteit na die arbeidshof geneem nadat onder meer die Hartbeespoort-polisiekantoor en die polisie se nasionale inspektoraat haar nie in bevorderingsposte wou aanstel nie hoewel sy die enigste geskikte kandidaat was. Die polisie het verkies om eerder niemand aan te stel nie, wat die hof nou as ’n onbillike toepassing van regstellende aksie uitgewys het.
’n Uitgelate Barnard het gister gesê dit was nie ’n maklike besluit om haar tot die hof te wend nie, maar sy is dankbaar sy het vasgebyt.
“Ek het hierdie nie vir myself gedoen nie. Ek wil ons land dien.”
Mnr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit, het gesê die uitspraak wys die polisie het te ver gegaan met hul toepassing van regstellende aksie en hulle aan onbillike rassediskriminasie skuldig gemaak.
“Die implikasie van vandag se uitspraak is dat maatskappye en staatsinstellings wat verteenwoordiging as die belangrikste kriterium in die toepassing van regstellende aksie gebruik, onwettig optree. Ons sal elke moontlike geval waar dit gebeur, beveg.”
Minstens nege ander soortgelyke sake – agt teen die polisie en een teen die departement van korrektiewe dienste – word moontlik later vanjaar in die arbeidshof aangehoor.
Van die polisiesake is vyf dié van lede wat nie bevorder is nie en die res oudlede wat weer om poste aansoek gedoen het, maar afgekeur is.
Regter Paul Pretorius het gister bevind behoorlike oorweging moet gegee word aan die individu, byvoorbeeld sy of haar geskiedenis by die werkgewer en werkprestasie.
“In my opinie was hul versuim om Barnard aan te stel, sonder om dan enige van die twee ander swart kandidate aan te stel, nie ’n rasionele metode om die gelyke indiensnemingplan toe te pas nie.”
Hy het ook gesê dié plan kan slegs in ooreenstemming met die beginsels van regverdigheid en die betrokke individu se reg op gelykheid gebruik word.
“Die persoon se waardigheid moet ook in ag geneem word.”
Volgens mnr. Faan Coetzee, ’n Johannesburgse prokureur en arbeidsregkenner, het die hof bevind die polisie het hul eie gelyke indiensnemingplan nie reg toegepas nie.
“Enigiemand wat dus in dieselfde posisie is waar die werkgewer nie reg optree wat dié plan betref nie, het gronde om hof toe te gaan.”
Asst.komm. Nonkululeko Mbatha, woordvoerder van mnr. Bheki Cele, nasionale polisiekommissaris, het gister gesê die polisie bestudeer nog die uitspraak en sal later reageer.
Hermann het gesê as die polisie wel besluit om te appelleer, sal dit “die pad vir Solidariteit oopmaak om vir ’n grondwetlike uitspraak te veg”.
- Beeld