Boer erg geslaan; sukkel om te praat ná aanval
2010-11-29 00:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Boer van die Kromdraai-omgewing, buite Krugersdorp, is die naweek vermoedelik met ’n byl en ’n knopkierie op sy plaas aangerand.
Mnr. Jurie Louw (38) van die plaas Rietfontein is vroeg eergisteroggend deur ’n buurman ontdek nadat hy Louw se Toyota Corolla met oop deure en ’n pap wiel in die teerpad naby die plaas aangetref het.
Louw het erge gesig-, been- en rugbeserings opgedoen en is per ambulans na die Dr. Yusuf Dadoo-hospitaal in Krugersdorp geneem.
Volgens ao. Dennis Jones, polisiewoordvoerder, het die aanval óf laat Vrydagaand óf in die vroeë oggendure eergister plaasgevind en het ’n onbekende aantal mans toegang tot
Louw se plaashuis verkry. Die plaas is naby die Brookwood-forelplaas en die Kloofzicht Lodge geleë.
Louw is vermoedelik met ’n byl en knopkierie aangerand.
“Dit is nog nie duidelik presies wat gebeur het en hoe die mans toegang tot die plaashuis gekry het nie.
“Ons weet ook nog nie presies of enigiets uit die huis vermis word nie,” het Jones gesê.
Die polisie kon vingerafdrukke van die voertuig lig en hoop dit kan hulle help om Louw se aanvallers te identifiseer en vas te trek.
“Die polisie het die slagoffer eergister in die hospitaal besoek. Daar bestaan ’n moontlikheid dat hy na ’n ander staatshospitaal oorgeplaas kan word.
“Ons kon nog nie ’n verklaring van hom bekom nie oor die erge beserings in sy gesig. Dit is tans vir hom moeilik om met die polisie te kommunikeer.”
’n Saak van gewapende huisroof word ondersoek. Die aanvallers is nog op vrye voete.
Volg Beeld op Twitter en Facebook.