Boere in bakkies baklei terug
2010-08-25 22:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die plaasaanvaller het op die kattebak van ’n bewegende wegkommotor gespring, toe duik mnr. Hardus Aucamp (25) ook daarop.
Soos in ’n aksiefliek het hulle sowat 400 m ver op ’n plaaspad gestoei terwyl albei aan die motor vasklou.
By die hoofpad tussen Ermelo en Hendrina het albei afgeval.
Aucamp het nog die motor se nommerplaat afgebreek.
“Ek het geweet ons het dan ten minste ’n leidraad om die voertuig op te spoor.”
Die aanvaller het die nag in verdwyn.
Teen dié tyd het een van sy makkers reeds dood in die Aucamps se huis gelê.
Kort daarna is nog twee verdagtes vasgetrek nadat sowat 60 bakkies vol boere op ’n noodroep gereageer het.
Teen gisteraand was mnr. Anton Greeff (50), bestuurder van die plaas Spitskop, nog in ’n bedenklike toestand in die Netcare-Milpark-hospitaal in Johannesburg nadat die aanvallers hom eergisteraand in die maag gewond het.
Mnr. Hein Aucamp (57), plaaseienaar, is in die linkerhand en boarm gewond en het gister ’n noodoperasie in die Life-Midmed-hospitaal in Middelburg ondergaan.
Die aanval het omstreeks 19:00 plaasgevind op die plaas, waar die Aucamps ook ’n vakansieoord bedryf.
“Toe ek by die kantoor instap, het ek trompop in ’n klomp rowers met vuurwapens vasgeloop.
Twee van die rowers het my ma, Erika (54), met vuurwapens aangehou.
Ek het net op my knieë neergesak en gesmeek hulle moet ons nie skiet nie,” het Aucamp jr. vertel.
’n Rower het hom met ’n pistool in die gesig geslaan.
“Ek het gemaak of ek bewusteloos is en skelm-skelm my pa, wat daar naby saam met oom Anton gekuier het, met my selfoon gekontak.”
Aucamp sr. en Greeff het by die kantoor ingestorm.
’n Vuisgeveg het gevolg en skote het geklap.
Die rowers het verskeie skote geskiet voordat hulle gevlug het.
Een het op die vloer bly lê en is later dood.
Vier rowers het in ’n wagtende Toyota Corolla gespring en weggejaag.
Dis toe dat die vyfde agterop die motor spring, met Aucamp jr. agterna.
Mnr. Dries van Rensburg, veiligheidsvoorsitter van TLU SA se oosstreek, was kort ná die aanval op die plaas.
“Ons het dadelik ’n noodroep na boere gestuur om te kom help. Binne ’n kort rukkie het sowat 60 bakkies vol boere opgedaag.”
Net buite Hendrina is twee mans, onderskeidelik 29 en 34 jaar oud, in die bloedbesmeerde motor in hegtenis geneem.
Die twee verdagtes verskyn vandag in die hof in Ermelo, het kapt. Carla Prinsloo, polisiewoordvoerder, gesê.