Boewe buit geld en kruideniers, los halfkaal lyk agter
2010-07-14 22:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die halfkaal lyk van ’n Bangladesjer (25) is gister vol steekwonde in sy spaza in Orange Farm, suid van Johannesburg, gevind.
Die polisie vermoed roof was die motief vir die misdaad.
Geld en kruideniersware is gevat.
’n Somaliër se spaza is ook eergisteraand in ’n aanval in Mamelodi-Oos in die ooste van Pretoria, waar die xenofobiese geweld in 2008 uitgebreek het, met petrol en ’n motorbuiteband aan die brand gesteek.
Mnr. Abdul Hassen van die Somali Association in Pretoria het gesê die gesin was in ’n deel van die winkel aan die slaap toe die aanval plaasgevind het.
“Die familie kon betyds na veiligheid vlug en het ook daarin geslaag om van die voorraad en ’n deel van die winkel te red,” het Hassen gesê.
Volgens hom leef Somaliërs in vrees.
“Ons weet nie of dié aanval ’n geïsoleerde xenofobiese aanval was en of dit net gewone misdaad was nie,” het hy gesê.
Brig. Govindsamy Mariemuthoo, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die aanvallers het geld en verskeie stuks kruideniersware uit die winkel gesteel voordat hulle gevlug het.
Vier mense is gearresteer.
“Die voorval word nie met xenofobie verbind nie,” het Mariemuthoo benadruk.
Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het gister by Primedia se Star of the Stars-prysuitdeling in Sandton, Johannesburg, gesê die aanvalle in die Wes-Kaap het hul oorsprong in misdaad eerder as xenofobie.
“Ons het niks gevind wat daarop dui dat dit xenofobiese geweld soos in 2008 is nie.”
Mnr. Mohamed Hassan, hoof van die Internasionale Organisasie vir Migrasie (IOM) in Musina, het gesê hulle het nie ’n aansienlike toename in buitelanders wat die Beitbrug-grenspos oorsteek, opgemerk nie.
Volgens mnr. Jacob Matakanye, woordvoerder van die Musina-regsadviessentrum, het hul drie beamptes wat die grenspos 24 uur per dag dophou, sedert Sondag slegs een persoon opgemerk wat gesê het hy vlug as gevolg van xenofobiese dreigemente.