Brigadier maak glo rasse-aanmerking
2011-10-21 00:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die polisie se hoof van radiobeheer in Gauteng word van crimen injuria aangekla nadat sy glo rassistiese uitlatings teenoor ’n konstabel gemaak het.
Brig. Vuyokazi Ndebele het konst. Angelique Kok, ’n lid van die Soshanguve-honde-eenheid, glo Vrydagaand in Sunnyside, Pretoria, uitgetrap omdat sy nie met haar blou ligte aan gery het nie.
Mnr. Nantes Kelder, hoof van ondersoeke van AfriForum, het gesê Kok het na hulle toe gekom vir hulp.
Volgens hom het Ndebele vanuit ’n motor met Kok geraas terwyl sy in ’n ander motor was.
Kok het stilgehou en uitgeklim om te hoor wat Ndebele gesê het omdat sy in die verbygaan nie mooi gehoor het nie.
Ndebele was saam met ’n kolonel in die ander motor.
Ndebele het toe glo uit haar motor geklim, na Kok s’n gestap, haar sleutels uit die motor gehaal en weer in haar motor geklim.
Kok het glo na haar toe gegaan om die sleutels te kry sodat haar hond nie in die voertuig agterbly nie.
“Dit is toe dat Ndebele vir haar sê: ‘Salueer jy nie die kolonel nie?’
“Sy het om verskoning gevra omdat sy hom nie gesien het nie en toe sê Ndebele vir haar: ‘Jy dink jy is spesiaal weens jou velkleur, omdat jy wit is.’
“Iemand het toe met haar (Kok se) motor, haar hond en haar bemanning weggery en haar alleen op die hoek van Schoeman- en Wesselsstraat in Sunnyside gelos,” het Kelder gesê.
Die polisie se bestuur is so besorg omdat soveel polisielede vermoor word, maar “dan los ’n brigadier ’n vrouekonstabel alleen met haar dienspistool tussen ’n klomp dronk mans en prostitute”, het Kelder gesê.
’n Vriend van Kok het haar later gaan oplaai.
Sy ontvang sielkundige behandeling vir die trauma waardeur sy is.
Kok, vergesel van Kelder, het Dinsdag ’n klag van crimen injuria by die Lyttelton-polisiekantoor in Centurion ingedien.
Kapt. Pinky Tsinyane, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is bewus van die saak en dit word ondersoek.
“As die ondersoek afgehandel is, sal die dossier na die direkteur van openbare vervolging verwys word vir ’n besluit oor of daar vervolg gaan word,” het Tsinyane gesê.