Burgemeester se kop rol oor binnegevegte
2010-09-09 22:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die ANC het me. Linah Malatji, burgemeester van eMalahleni (Witbank), in die pad gesteek en uit die party geskop.
Die stryd tussen haar en die party het byna twee jaar gelede begin toe sy mnr. Ananias Langa, munisipale bestuurder, geskors het.
Die ANC het ingegryp en opdrag gegee dat die skorsing van Langa, wat ook die party se Hoëveld-streektesourier is, opgehef word.
Die ANC het Malatji daarna geskors.
Sy het haar skorsing in die hof beveg, wat beslis het haar skorsing moet tersyde gestel word.
Die ANC het toe met tugstappe teen Malatji begin.
Intussen het die destydse departement van plaaslike regering, waarvan mnr. Jabu Mahlangu as LUR in beheer was, ’n ondersoek by die raad laat doen.
Verskeie finansiële ongerymdhede, growwe wanbestuur en probleme met swak dienslewering in die stad het aan die lig gekom.
Mahlangu het aanbeveel Langa moet geskors word.
Die raad het sowat vyf maande gelede besluit om Langa weer te skors.
Eergister is Malatji ingelig dat sy uit die party geskop word.
Sy het haar kantoor dieselfde aand verlaat.
Dit was nadat ’n tugkomitee van die party se provinsiale bestuur haar aan wangedrag skuldig bevind het.
Intussen word eMalahleni steeds deur swak dienslewering geteister.
Watervoorsiening het in geheel in duie gestort en inwoners is bykans daagliks sonder water.
“Malatji se skorsing is die beste ding wat kon gebeur het,” het mnr. Henro Kruger, DA-raadslid, gesê.
Die onaanvaarbare vlak van dienslewering en ondraaglike toestande waarin die inwoners hulle tans bevind, kan slegs aan die afwesigheid van politieke wil van die ANC toegeskryf word, het hy gesê.
Nie Malatji of die ANC het gister op boodskappe met versoeke om kommentaar gereageer nie.