Cele wéér skuldig
2011-06-30 00:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kaapstad. – Die openbare beskermer (OB) het vir ’n tweede keer bevind genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het onregmatig en onwettig opgetree en hom aan wangedrag skuldig gemaak.
Dié keer is dit in verband met ’n ooreenkoms van R1,17 miljard vir die polisie se provinsiale hoofkantoor in Durban.
Hy is in Februarie aan soortgelyke klagte skuldig bevind oor ’n huurooreenkoms van sowat R500 miljoen vir die polisie se nuwe hoofkantoor in Pretoria.
Adv. Thuli Madonsela, OB, het bevind albei huurooreenkomste met die sakeman mnr. Roux Shabangu is ongeldig en onwettig omdat die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree word en dit strydig met tesourie-regulasies en tenderprosedures is.
Luidens die OB se voorlopige verslag ná die Durban-ondersoek het Cele ’n werknemer van die departement van openbare werke in KwaZulu-Natal glo vir ’n “laevlak-amptenaar” uitgekryt toe sy daarop aangedring het dat ’n openbare bodproses gevolg word om ’n gebou teen markverwante pryse te bekom.
Die amptenaar is verplaas nadat Cele op 7 Julie verlede jaar op ’n vergadering met die departement aangevoer het sy bevraagteken sy (Cele se) gesag.
Volgens mnr. Siviwe Dongwana, destydse direkteur-generaal van openbare werke, was Cele dié dag “uiters ontsteld” dat ’n “junior amptenaar” haar kommer oor die voorgenome huurooreenkoms met Shabangu uitgespreek het. “Wat Cele betref het, het haar navrae by die polisie se sake ingemeng. Cele het gesê sy wil sy departement vir hom bestuur,” lui Dongwana se verklaring wat in die OB se verslag vervat is.
Hoewel Cele nooit self die huurooreenkoms met Shabangu onderteken het nie, het hy wel ’n behoeftebepaling vir die nuwe provinsiale kantoor goedgekeur, asook ’n versoek om meer geld omdat die polisie nie daarvoor begroot het nie.
Die verslag is nog nie bekend gemaak nie, maar aan onder andere pres. Jacob Zuma en mnre. Nathi Mthethwa en Pravin Gordhan, ministers van onderskeidelik polisie en finansies, gestuur.
Dit lewer ook fel kritiek op me. Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, wat geweier het om haar volle samewerking tydens die Durban-ondersoek aan die OB te gee.
Volgens Madonsela het Mahlangu-Nkabinde haar grondwetlike pligte as minister versaak en “onregmatig” opgetree.
Luidens die verslag is daar verskeie ooreenkomste tussen die huurkontrakte vir die Sanlam-Middestad-gebou in Pretoria en die Transnet-gebou in Durban:
- Albei geboue is deur Cele “geïdentifiseer”;
- Die polisie het, strydig met verkrygingsprosedures, vooraf en sonder die departement van openbare werke met Shabangu onderhandel;
- Shabangu het die geboue gekoop kort voordat die polisie dit vir nuwe hoofkantore geoormerk het;
- Die polisie se behoeftebepaling is so opgestel dat dit met die geboue se huurspasie ooreenstem;
- Die departement het nie ’n openbare bodproses gevolg nie, maar in albei gevalle net met Shabangu onderhandel;
- Nie die tesourie of die ouditeur-generaal is ingelig dat daar van die vereiste tenderprosedures afgewyk is nie;
- Die polisie het nie vir een van die huurooreenkomste begroot nie;
- Shabangu het in albei gevalle na bewering druk op polisiebeamptes en amptenare van die departement van openbare werke geplaas om die huurooreenkomste te finaliseer;
- Albei geboue was in ’n swak toestand en sou teen die staat se koste opgeknap moes word; en
- Die huurkoste was in albei gevalle nie markverwant nie, maar “baie hoër” as dié van soortgelyke geboue wat in die huurmark beskikbaar was.