Charl wil braai by Meesters
2012-01-23 22:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Meesterskampioen Charl Schwartzel gaan sy gesogte groen baadjie vanjaar vir ’n voorskoot op Augusta verruil.
Dit is al sedert 1952 ’n instelling dat die vorige jaar se Meesterskampioen die spyskaart vir die sogenaamde kampioene-dinee, wat tradisioneel die Dinsdag voor die toernooi by die klubhuis van die
eksklusiewe Augusta National Club in die VSA gehou word, kan kies.
Die Suid-Afrikaanse gholfheld wil op dié klub se grasperk onder die bekende ou eikeboom boerewors op die kole gooi.
“Ons het die versoek gerig en wag nog om van hulle (die organiseerders) te hoor,” het Schwartzel aan die Global Golf Post gesê.
Die 27-jarige Schwartzel het verlede jaar sy eerste van wêreldgholf se vier groot toernooie gewen en daarmee maar die derde Suid-Afrikaner ná Gary Player (1961, 1974 en 1978) en Trevor Immelman (2008) geword wat dié toernooi gewen het.
En hy is glo nie net behendig met ’n gholfstok nie.
“Ek het ’n spesiale speseryresep vir my boerewors, so ek sal dit gebruik.”
Schwartzel sê hy sal self wil braai.
“Ek sal waarskynlik met ’n seer hand sit nadat ek al die wors omgedraai het.”
Hy sê sy beesfilet is eintlik sy spesialiteit.
“Ek het ’n geheime marinade. Louis Oosthuizen is mal daaroor en hy is vol fiemies oor vleis. Dit moet dus taamlik goed wees,” het Schwartzel gesê.
Immelman het in 2009 bobotie, sosaties en melktert voorgesit.
Daar was volgens die toernooi se webblad oor die jare al vreemde geregte op die spyskaart.
Sandy Lyle, die kampioen in 1988, het op die Skotse gereg haggis (’n afvalgereg met skaaphart, -lewer en -longe) besluit, terwyl die 2003-kampioen, Mike Weir,
Kanadese eland en wildevark voorgesit het.
Tiger Woods het in 1998 hamburgers, hoendertoebroodjies, aartappelskyfies en melkskommels voorgesit.