DNS-voorlegging deur SA vrou ontstel afgevaardigdes
2010-10-21 23:23
Internasionale afgevaardigdes op ’n DNS-beraad van Interpol in Lyon, Frankryk, het gehuil terwyl ’n voorlegging oor die situasie met DNS-profiele in Suid-Afrika aan hulle verduidelik is.
Veral foto’s van teddiebeertjies op mandjies vol koeverte met DNS-monsters wat op tonele van kinderverkragtings geneem is, het van die afgevaardigdes erg ontstel.
So sê me. Vanessa Lynch van Kaapstad wat die voorlegging met spesiale verlof van en as hoë uitsondering deur Interpol gedoen het.
Lynch het haar loopbaan as prokureur laat vaar nadat haar pa in 2004 vermoor is. Sy was ontsteld oor die manier waarop die insameling van moontlike DNS-getuienis gehanteer is en het besluit om haar voltyds toe te spits op die bevordering van die DNS-stelsel in Suid-Afrika.
Sy is deur Interpol na Frankryk genooi in haar hoedanigheid as uitvoerende direkteur en stigterslid van die organisasie The DNA Project. Die polisie se forensiese eenheid het ook ’n voorlegging gedoen.
Lynch sê haar kruistog om Suid-Afrika se hantering van DNS-ge-tuienis op dieselfde vlak as dié van die meeste Westerse lande te bring, gaan daaroor dat misdadigers in Suid-Afrika “met sy hemelhoë misdaadsyfers” steeds beskerm word en dat die polisie tans nie DNS-monsters mag neem van verdagtes wat gearresteer word om dit op ’n databasis te hou nie.
In die VSA is 6,8 miljoen sulke DNS-profiele al tot die polisie se beskikking en in Europa meer as 7 miljoen. In Suid-Afrika is net 123 000 beskikbaar.
Sy sê die parlement sit nou al twee jaar met die Konsepwet op Strafreg (Forensiese Prosedures), maar dat net die eerste deel daarvan gepromulgeer, maar nog nie in werking gestel is nie. Dié deel gee die polisie toegang tot vingerafdrukke wat onder meer die departement van binnelandse sake en van vervoer hou.
Die belangrike tweede deel, wat die polisie in staat sal stel om DNS-profiele saam te stel van elke mens wat as verdagte gearresteer of aan ’n misdaad skuldig bevind word, vorder egter baie stadig, sê sy.
Me. Dianne Kohler Barnard, lid van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie, het gister gesê die tweede deel van die wet is vir die komitee belangrik en geniet voorkeur, “maar ons kan ook nie halsoorkop so ’n ingrypende wet deurvoer nie”.
Sy het gesê komiteelede bring eers moontlik in Januarie volgende jaar ’n besoek aan Kanada en Brittanje om te kyk hoe DNS-stelsels daar gehanteer word. Daarna moet openbare verhore oor die wetgewing eers nog gehou word.
Intussen, sê Lynch, lê DNS-monsters in ernstige misdaadsake onaangeraak.

Me. Vanessa Lynch
Volg Beeld op Twitter. Kliek hier.