’n Senior staatsadvokaat se weiering om ’n
bedrogondersoek teen die polisie se geskorste misdaadintelligensiehoof te laat
vaar, is die ware rede waarom sy met skorsing gedreig word, het Beeld
verneem.
Bewerings dat skorsing adv. Glynnis Breytenbach in die gesig staar
weens haar ondersoek na bedrog in die Kumba/
Imperial Crown Trading-mynsaak,
is blykbaar net ’n rookskerm.
Breytenbach het ondanks ’n “opdrag van bo” geweier om ’n
bedrogondersoek teen lt.genl.
Richard Mdluli te laat vaar.
Al is alle bedrogklagte teen Mdluli in Desember teruggetrek, meen
Breytenbach blykbaar steeds daar is ’n prima facie-saak teen hom.
Geen redes is in die Pretoriase handelshof gegee waarom die klagte
teen hom en kol. Heine Johannes Barnard, ook verbonde aan die polisie se
misdaadintelligensie-eenheid, teruggetrek is nie.
Donderdag is ’n moordaanklag teen Mdluli en nog drie mense in die
Boksburg-landdroshof ook teruggetrek. (Nog ’n berig op
bl. 2.)
Adv. Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag
(NVG), het gister enige verband tussen die Mdluli-bedrogondersoek en Breytenbach
se moontlike skorsing ontken.
“Die NVG is nie bereid om op dié bewering kommentaar te lewer
nie omdat adv. Breytenbach se moontlike skorsing ’n interne aangeleentheid is,”
het hy gesê.
Breytenbach, een van die staat se voorste stryders teen korrupsie
en streekhoof van die NVG se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, het
eergister ’n kennisgewing ontvang van haar werkgewer se voorneme om haar te
skors.
Die algemene indruk was dat dit uit klagtes teen Breytenbach oor
beweerde magsmisbruik gespruit het.
Sy was besig met ’n bedrogondersoek na aanleiding van inligting wat
uitgekom het tydens die siviele saak in die hooggeregshof in Pretoria tussen die
maatskappye Kumba en Impe-
rial Crown Trading (ICT).
Breytenbach is ná die klagtes teen haar beveel om ’n ander aanklaer
vir dié ondersoek aan te stel, wat sy toe gedoen het.
“Ons weet nie van watter magsmisbruik hulle praat nie en adv.
Breytenbach het gedoen wat sy beveel is,” het ’n bron in regskringe gesê.
“Dit lyk meer of die Kumba-aangeleentheid as rookskerm gebruik word
en dat dit eintlik daaroor gaan dat sy geweier het om die Mdluli-bedrogondersoek
te staak.”
Breytenbach moet teen Dinsdag redes aanvoer hoekom sy nie geskors
moet word nie.
Mnr. Gerhard Wagenaar, haar regsverteenwoordiger, het gesê die
bewerings teen Breytenbach is “baie vaag en in dié stadium is dit uiters moeilik
om daarop te antwoord”.
Hy is egter in kommunikasie met die NVG daaroor.
)?Die jongste verwikkelinge het gebeur net meer as ’n jaar
nadat mnr. Jeff Radebe, minister van justisie, adv. Menzi
Simelane,
nasionale direkteur van openbare vervolging, opdrag gegee het om die
herstrukturering van die NVG te staak.
Daar was ontevredenheid omdat dit voorgekom het of Simelane
rapporteringslyne in die NVG wou verander en só beheer oor spesialiseenhede soos
die handelsmisdaadeenheid wou kry.
Simelane is intussen met spesiale verlof nadat die appèlhof sy
aanstelling ongeldig verklaar het.