De Wet, De la Rey in Vryheidspark
2010-06-30 22:22
Genl. Christiaan de Wet is hier en genl. Koos de la Rey is op pad.
En hulle het ’n belangrike rol om te speel.
Die Vryheidspark se bestuur sê hy hoop hy kan die “verkeerde persepsies” oor die monument vir goed verander met die uitbeelding van dié Boeregeneraals se geskiedenis op Salvokop in Pretoria.
Dié ambiseuse staatsprojek is voorheen gebrandmerk as ’n ANC-park en ’n eksklusiewe apartheidsmuseum wat net erkenning aan sekere bevolkingsgroepe se geskiedenis gee.
Die Vryheidspark poog die laaste paar jaar om mense wat in agt hoofkonflikte in Suid-Afrika se geskiedenis – pre-koloniale oorloë, volksmoord, slawerny, weerstandsoorloë, die Anglo-Boereoorlog, die Eerste en Tweede Wêreldoorloë en die vryheidstryd – gesterf het, te vereer.
Die Vryheidspark word veral daarvan beskuldig dat hy Afrikaners stief behandel.
Tien groot leiers in die land se geskiedenis word nou as deel van ’n tydelike uitstalling, wat veral op oorsese sokkertoeriste gemik is, in die Vryheidspark se omstrede heldesaal uitgebeeld.
De Wet is een van hulle.
Dr. Wally Serote, die Vryheidspark se uitvoerende hoof, het gesê genl. De la Rey se besonderhede sal ook binnekort in die heldegalery verewig word.
Hy het gesê De Wet se teenwoordigheid tussen die tien uitgesoekte leiers moenie as ’n regstelling beskou word nie.
Daar was verlede jaar ’n groot herrie toe die Vryheidspark die eerste name vir sy leiersaal bekend gemaak het.
Meer as die helfte het ANC-bande gehad.
De Wet was nie een van dié groep nie.
“Daar was nog nooit ’n doelbewuste benadering om Afrikaners uit te sluit nie.
Toe die name byvoorbeeld verlede jaar bekend gemaak is, was Bram Fischer daar en hy is so ’n Afrikaner soos kan kom.
“Dit is ’n gegewe dat ’n De Wet en ’n De la Rey hier vereer sal word.”
Serote het gesê hy hou by sy mening destyds oor die SAW-soldate.
Hy het in 2006 ’n storm ontketen toe hy gesê het Suid-Afrikaanse soldate wat dood is in die bosoorlog in Namibië en Angola moenie in die Vryheidspark vereer word nie omdat hulle nie geveg het om vryheid en menslikheid nie.
“Ja, ek hou daarby, maar dit is nie vir my om te besluit nie. Ek glo ons sal nog ’n antwoord hieroor kry.”