‘Die water brand ons’
2012-02-17 21:29
Carolina. – Inwoners van dié dorp wat sukkel met suur mynwater in hul krane het gister vertel hoe die water ’n veluitslag veroorsaak, hul hare breek en swembadwater pikswart maak.
’n Omgekrapte me. Martha Magagula het gesê die water brand haar vel stukkend wanneer sy haar was.
“Dit is die myne wat ons damwater suur gemaak het. Ons drinkwater is onbruikbaar, maar ons wat in Silobela woon, het géén ander water nie. Ons het nie geld om bottels water te koop nie.”
Magagula het gesê sy het ook haar hare in die water gewas en dit voel taai, “soos Crimplene”.
Me. Lizelle van Aswegen van die Antique-gastehuis op die dorp het haar hare ook in die suur mynwater gewas en sê sy “moes dit afskeer”.
“My hare het als afgebreek. Die mense sê dis die myne se skuld,” het sy gesê.
Die sowat 15 000 inwoners van die dorp, Silobela en Caropark het vandeesweek uitgevind die water in hul krane is suur mynwater met ’n pH van 3.
Die water is dodelik en mag nie gedrink word nie. Dit is die eerste keer in die land se geskiedenis dat suur mynwater uit waterkrane loop.
Volgens mnr. Leon Dormehl, lid van die Carolina-krisiskomitee, is die doodsteek die hoë vlak van aluminium in die water wat oor ’n lang tyd mense se dood kan veroorsaak.
In Ons Eie-ouetehuis in die dorp het al 86 bejaardes, van wie 50 verswak is, ’n veluitslag gekry van die dorpswater.
Volgens me. Sonja Bensch, bestuurder van die ouetehuis, bring sy daagliks drie keer sowat 600 liter boorgatwater van haar huis af wat gebruik word as drinkwater vir die bejaardes.
Die boorgatwater word ook gebruik om die bejaardes se kos in te kook.
Me. Ria Rudd, kok in die ouetehuis, sê sy is baie trots op haar vadoeke en kastrolle. Wanneer sy egter die kraanwater gebruik om vadoeke in te was, word dit pikswart.
“Niks kry dit uit nie. As ’n mens Jik by die water gooi, word dít óók pikswart.”
Die kastrolle word geskrop, maar dit bly vetterig.
Mnr. Nippy Klopper, ’n sakeman van die dorp, is een van die inwoners wat sê hy is keelvol vir die myne wat al hul suur, besoedelde water in die Boesmanrivierspruit stort.
Klopper het gister gesê hy bestudeer tans die Waterwet en beoog om strafregtelike klagte teen die myne aanhangig te maak.
Klopper het vandeesweek chloor in sy swembad gegooi en sê dit het binne minute pikswart geword.
Mnr. Johan Meintjes van die plaas Witrand teenaan een van die steenkoolmyne in die opvangsgebied van die Boesmanrivierspruit het gesê suur mynwater wat van dié myn gestort word, het in die vleie op sy plaas beland en alle lewe uitgewis.
Dit het ook in die bloekomlaning en in sy mielieland gekom. Dít is ook besig om te vrek.
’n Amptenaar by die watersuiweringsaanleg het gister gesê hulle gooi massas kalk in die water om die pH te probeer opstoot.
“Maar ons kry die aluminium nie uit nie.”
Die departement van waterwese het gesê hy sal ’n verklaring uitreik oor die watersituasie in Carolina.

Só lyk die water wat uit die ouetehuis op Carolina se krane kom nadat daar Jik-bleikmiddel ingegooi is.

Skoolkinders van die Carolina Akademiese Skool drink water uit ’n watertenk wat gebruik word sodat hulle skoon en veilige water het.

Me. Ria Rudd, kok van die Ons Eie-ouetehuis, met van die vadoeke wat deur die kraanwater verkleur is.