‘Dis bisar, generaal!’
2012-02-02 21:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
‘Dis die mees bisarre dokument wat ek in ’n lang tyd gelees het. Dit voel asof ’n mens met ’n tydmasjien teruggevat word na die donkerste tye van die PW Botha-era.”
So sê dr. André Bartlett, hoof van die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, oor die memorandum wat genl. Johan van der Merwe, gewese polisiehoof, oor die Belydenis van Belhar opgestel het.
Hy voer daarin onder meer aan dat Belhar gehelp het om geweld en terreur in die 1980’s te bevorder.
Bartlett meen dis skrikwekkend dat Van der Merwe ná 30 jaar nog nie ’n nuwe perspektief op destydse gebeure ontwikkel het nie.
Hy dink ook die generaal se ontleding is so oppervlakkig dat dit nie as ’n ernstige beoordeling van die belydenisskrif beskou kan word nie.
Dr. André van Niekerk, predikant van die NG gemeente Waterkloof wat sy doktorsgraad oor onder meer Belhar gedoen het, se vraag aan Van der Merwe is: “Waarom sien jy die splinter in jou broer se oog raak, maar nie die balk in jou eie oog nie?”
Hy sê Belhar het nie ’n opruiende nie, maar ’n kalmerende invloed op mense gehad.
Belhar was anders as Marxisme, wat geglo het dat ’n revolusie uit die verdruktes moet voortkom.
Die belydenis het diegene wat tot derdeklas-mense verneder is, opgeroep om hulle teen te sit deur hulle vir eenheid, versoening en geregtigheid te beywer.
Prof. Piet Naudé, viserektor van die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit, sê hy hoop die generaal sal oop wees om die “talle ernstige misvattinge en feitelike weglatings” in sy memorandum reg te stel.
Dit maak hom hartseer om te sien hoe blind sy broer is vir die lyding van ander onder ’n valse evangelie.
Hy verwys na Van der Merwe wat skryf “hulle (wit mense en veiligheidsmagte) moes elke dag die wrange vrugte pluk van geestelike leiers wat in kerklike gewaad revolusionêre bedrywighede bedryf het ...”
Dít, sê Naudé, “was die reaksie op ’n veel vroeër sisteem waarin ons eie geestelike leiers in kerklike gewaad ’n mens- en Godonterende sisteem in die naam van Christus ingestel en verdedig het.”