Dit wás elektriese skok, sê patoloog
2010-09-03 22:30
Elektrokusie word op ’n verslag van ’n forensiese patoloog aangedui as een van die oorsake van ’n 18-jarige Krugersdorpse skoolseun se dood nadat hy verlede naweek in ’n nagklub inmekaargesak het.
Shane Jonker se pa, mnr. Wayne Coutts (38), het gister afskrifte van die verslag aan Beeld gewys.
Dr. Jessica Clair Meddows-Taylor het die bevinding Maandag gemaak en dit só op die amptelike kennisgewingvorm vir sterftes voltooi.
Dié vorm word aan die departement van binnelandse sake oorhandig om ’n doodsertifikaat te bekom.
Daar staan steeds op Jonker se doodsertifikaat dat dit ’n “onnatuurlike sterfte” is totdat die toksikologiese toetse afgehandel is, wat vyf tot agt jaar kan duur.
’n Mede-eienaar van die klub het vroeër vandeesweek beweer sy het wit korrels tussen geel slym in Shane se mond gesien.
Die inhoud dui glo op ’n soort vloeibare Ecstasy. Volgens die mede-eienaar het ’n ander tiener by die klub gesê hulle het dit gedrink.
“Dit is juis daarom dat ons die ondersoekproses wil bespoedig,” het Coutts gesê. Hy is reeds besig om private patoloë aan te stel om die toksikologiese toetse af te handel.
Coutts het ao. Vernene Brits, die ondersoekbeampte van die Krugersdorp-polisiekantoor, gister besoek om haar in te lig dat die familie private patoloë wil gebruik om die ondersoek te bespoedig.
“Ons kan nie wag vir die waarheid nie. Ons weet hy is doodgeskok,” het Coutts gesê.
Die nuwe stap kan Coutts derduisende rande kos, “maar ek is bereid om dit te doen en te betaal om my seun se naam skoon te kry nadat dit swartgesmeer is”.
Dit kan tot ses maande duur om die uitslae van private patologiese toetse te kry, het Coutts gesê.
Hy het intussen ook ’n prokureur, mnr. Bul van Vuuren, aangestel om na die familie se belange in die saak om te sien.
Shane word Maandag 14:00 uit die Rant-en-Dal-gemeenskapskerk in Krugersdorp begrawe.

Die deel van die verslag waarin elektrokusie as ’n oorsaak van Shane Jonker se dood aangedui word.