‘Dure ondervinding maak Victor beter’
2010-09-03 22:30
Die nasionale rolstoelrugbyspeler Victor Buitendach help die verlamde misdaadslagoffer mnr. Rudolph Terblanche met sy rehabilitasie.
Buitendach is al 18 jaar lank ’n kwadrupleeg nadat sy nek in ’n motorongeluk gebreek is.
“As dit enigiemand anders was wat my arms so rondgepluk het, sou ek baie meer gekla het, maar Victor was waar ek is,” het Terblanche (47) gister by sy huis in Meyerspark, Pretoria, gesê.
Terblanche is verlam nadat hy tydens ’n huisrooftog op 11 Junie vanjaar op ’n hoewe in Willowbray, in die ooste van Pretoria, in die nek geskiet is. Sy vriend, mnr. Gerhard van Jaarsveld (48) is doodgeskiet en sy lewensmaat, me. Elrene Jones (40), in die skouer en in die kuit geskiet.
Toe Buitendach hom ’n maand gelede vir die eerste keer gehelp het, het hy moed gekry omdat Buitendach al “dure ondervinding” opge-doen het, het Terblanche ge-
sê.
“Ek was al vir rehabilitasie waar ek later skree van die pyn wat ek in my nek het en niemand reageer nie. Ek het later vir die fisioterapeut gevra of sy al self ’n kwadrupleeg was.
“Victor weet wat hy doen. Hy moes al self die pyn gevat het wat hy nou uitdeel.”
Sedert Terblanche meer as ’n maand gelede uit die hospitaal ontslaan is, het hy al meer gevoel in albei sy arms gekry. Hy kan ook al sy linkerarm optel en op sy bors neersit en selfs aan sy gesig raak.
Buitendach het gesê as ’n mens na Terblanche se besering kyk, “is elke liewe dingetjie wat hier gebeur ’n wonderwerk”.
Volgens Buitendach is dit nie in sy of in Terblanche se hande of Terblanche weer gaan loop nie “maar enigiets is moontlik”.
Hy het gesê die prioriteit is nou om te kyk hoeveel fisieke beweging Terblanche kan terugkry.
Daarby moet hulle ook op sy emosionele genesing fokus.
“Mense wil deesdae ’n held sien. ’n Held is iemand wat ná só iets terugspring en met sy lewe aangaan,” het Buitendach gesê.