Dusi van ’n ma!
2012-02-17 21:29
Die agt maande oue Jake Ulansky is die rede waarom sy ma, Abbey, en “tannie”, Robin Kime, die afgelope twee dae hul bes doen om die Unlimited Dusi-kanowedvaart so vinnig moontlik klaar te roei.
Ulansky sr. (voorheen Miedema) en Kime het gister algeheel die 19de vinnigste tyd in die tweede skof (die 48 km van die Dusi-brug tot by die Inanda-dam) opgestel.
Dit het aan hulle ’n voorsprong van meer as 12 minute in die vrouewedvaart besorg.
Wat Ulansky se vertoning merkwaardig maak, is dat sy agt maande gelede vir die eerste keer ma geword het en eintlik geen planne gehad het om aan die Dusi deel te neem nie.
Maar alles het verander toe Kime twee dae voor Kersfees ’n oproep na Kanada maak en Ulansky vra om nog net één keer deel te neem.
Kime se spanmaat moes haar op die laaste nippertjie onttrek.
Dit het twee dae se e-pos-gesoebat geverg om Ulansky te oorreed om van Kelowna, Kanada, na Suid-Afrika terug te keer.
’n Erg onfikse Ulansky het die tweede week in Januarie hier aangekom.
Baba Jake se ouma, me. Kiki Miedema van die Kaap, het dadelik ingestem om te help, want dit was net die verskoning wat sy nodig gehad het om meer tyd saam met haar kleinseun en dogter deur te bring.
Dit is dan ook Miedema, met Jake op haar rug vasgemaak, wat die afgelope twee dae op en af langs die Umsinduzirivier gery en gestap het om vir Ulansky en Kime water en kos aan te dra.
Volgens haar het Jake die meeste van die geskarrel geniet.
Daar was wel oomblikke wanneer hy ’n paar trane gestort het. Om Dusi-helper te wees maak ’n “man” honger en trane is al hoe hy sy ouma van dié probleem bewus kan maak.
Ulansky het Marlene Loewenstein se Dusi-rekord van agt seges in die vrouewedvaart geëwenaar.
Die kans dat sy gaan probeer om ’n negende Dusi te wen, is skraal.
“Ek kan nie. Jake is beslis die wonderlikste ding wat met my kon gebeur het. Hy het so ’n spesiale glimlag wat my hart heeltemal laat vermurwe.
“Dit is vir my so belangrik om ’n goeie ma vir hom te wees.”
Op ’n vraag of Jake dalk eendag aan die Dusi sal deelneem, het sy breed geglimlag en gesê wie weet wat die toekoms inhou.