Egpaar kook oorlog hiér se ellende weg
2009-11-27 01:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Hulle maak kos wanneer die res van Afganistan oorlog maak.
En as die ontploffings in Kaboel, hoofstad, die dag regtig erg raak, dink hulle watter dis hulle kan optower om die ellendige toestande dalk ’n bietjie beter te kan hanteer.
Dit is die sonderlinge storie van ’n jong Suid-Afrikaanse navorser by die Verenigde Nasies (VN) en haar man, ’n programbestuurder van die VN, wat reeds die afgelope vyf jaar eers in Irak en toe in Afganistan gaan woon het.
Me. Susan Marx (32) en haar man, mnr. Chris Serjak, glo daar is geen beter resep vir stresverligting as om te kook en dan vriende en selfs onbekendes te nooi om saam te eet nie.
As ’n dag ’n besondere klomp probleme opgelewer het, dan takel hulle saam ’n ingewikkelde dis in die kombuis.
Terwyl hulle dan so staan en opkap, roer en klits, werk die egpaar sommer deur die ergste aspekte van die probleem.
In Augustus vanjaar het die VN se kantore in Kaboel onder skoot gekom. Ure lank kon niemand deurkom na die kantore om uit te vind wat gebeur, wie is beseer en of daar ongevalle was nie.
Marx het oudergewoonte haar heil in haar kombuis gaan soek en begin bak – sy meen daar sal altyd iemand wees wat ’n tuisgekookte of -gebakte ietsie sal waardeer.
Toe hulle nog in Bagdad gestasioneer was en met ontwikkelingsprojekte gehelp het, is 22 van hul VN-kollegas dood toe ’n kragtige motorbom buite die VN-hoofkantoor ontplof het.
Die VN het sy aktiwiteite in Irak daarna drasties afgeskaal en só het die egpaar in Kaboel beland – ’n eiland van rustigheid ná maande se daaglikse dosis oorlog. Die rustigheid was van korte duur en al die aanduidings is reeds daar dat Afganistan in die greep van veel meer konflik as Irak is.
Op hul blog, Foodie in a Warzone, deel die egpaar hul gedagtes, resepte en wenke hoe om in ’n oorloggeteisterde land steeds letterlik die pot aan die kook te hou.
Om in ’n oorlogsone te woon, plaas egter sy eie beperkings op die beskikbaarheid van vars groente en bestanddele vir hul kulinêre eskapades.
Vir hul eerste dankseggingsvieringe drie jaar gelede in Bagdad het 50 gaste “van alle rasse en geloofsoortuigings wat die ete eerder na ’n vergadering van die VN se veiligheidsraad laat lyk het”, saamgekuier. Almal is ver van hul huise en die egpaar glo hul huis, waar daar altyd iets aan die kook is, het vir hul vriende en hulself ’n plek van saamwees te midde van die chaos geword.
- Beeld