Eise: 9 uit 10 plase lê braak
2010-03-02 23:45
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kaapstad. – Sowat 90% van die 5,9miljoen ha landbougrond wat die staat sedert 1994 vir grondhervorming gekoop het, lê vandag braak.
Die plase is as volhoubare ondernemings gekoop en die gedagte was dat dit so bly.
Dit het nie gebeur nie, het mnr. Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondsake, gister tydens ’n inligtingsessie hier gesê.
Nkwinti het ook aangekondig die grond gaan ’n kapitaalinspuiting van R254 miljoen kry om dit weer lewensvatbaar te maak.
’n Kwart van sy begroting vir die 2010-’11-boekjaar gaan gestort word in pogings om nagenoeg 200 plase, wat eens produktief was, maar in onbruik verval het, te rehabiliteer.
’n Verdere R207 miljoen in waarborge sal in samewerking met die tesourie en die Landbank bewillig word aan opkomende boere wat die gevaar loop om hul plase te verloor.
Hoewel hy die regering se planne verwelkom, het dr. Theo de Jager, visepresident van Agri SA, gesê die regering se reddingsboei beteken bloot hy betaal wéér vir plase wat hy reeds gekoop het. “Hy gaan uiteindelik báie meer geld uithaal om die plase reg te ruk as wat hy daarvoor betaal het omdat dit nou soveel langer gaan vat om die plase op die been te kry.”
Hy het ’n belofte deur Nkwinti verwelkom dat die departement sy hulpverleniging aan nuutgevestigde boere gaan opknap.
“Opkomende boere wag gemiddeld tot 33 maande om kapitaal te kry. Niémand kan so oorleef nie.”
Die regering gaan voorts opkomende boere wat nie daarin slaag om plase volhoubaar te bedryf nie, summier van die grond afjaag.
“Die beginsel van gebruik-of-verloor-dit gaan nou éérs van toepassing wees,” het Nkwinti gesê.
“Ons gaan vennootskappe met bestaande en afgetrede boere aangaan om volhoubare ondernemings te vestig, maar diegene wat nie wil saamwerk nie, is uit.”
Hy het bygevoeg daar kan nie langer bekostig word om geld te verkwis op boerderye wat nie ’n volhoubare bydrae tot voedselproduksie lewer nie.
Nkwinti het herhaal die regering gaan nie sy teiken van 30% van landbougrond teen 2014 in swart hande haal nie. “Dit is omtrent 15 jaar sedert ons met die grondherverdelingsprogram begin het en ons is nog nie naastenby waar ons moet wees nie.
“Ons jaag egter nie meer hektaar nie, maar wil eerder ’n balans skep tussen hoeveel grond herverdeel is en hoe volhoubaar dit bewerk word,” het hy gesê.
Hy kon nie duidelikheid gee oor presies hoe die debat rondom die beginsel van gewillige
koper/gewillige verkoper verder geneem gaan word nie.
De Jager het gesê onsekerheid rondom dié brandpunt is besig om die land beleggings en werkgeleenthede te kos.
“Duitse beleggers het pas investering van R35 miljoen in die Laeveld onttrek,” het hy gesê.