‘Ek hoop als is nou reg’
2010-08-11 22:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Tientalle inwoners van Wolmer in die noorde van Pretoria het die koue getrotseer en aangemeld waar amptenare van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) hulle met aansoeke om pensioen en toelaes gehelp het.
Verskeie inwoners met wie Beeld gepraat het, het gesê hulle het geen inkomste nie.
Dit was vir heelparty die tweede of selfs derde keer dat hulle aansoek doen om hulp.
’n Hele paar Sassa-amptenare het die inwoners gister geduldig gehelp om vorms in te vul.
Dit het gebeur nadat Solidariteit Helpende Hand vroeër met Sassa vergader het en die probleme betreffende wit armoede uitgewys het.
Mnr. Siphiwe Sakela, bestuurder van Sassa in Pretoria, het die proses verduidelik en gesê armes wat aansoek doen én ingevolge riglyne om hulp in aanmerking kom, behoort binne ’n maand gehelp te word.
Me. Ina van Heerden (47), voorsitter van die Wolmer-inwonersvereniging, het gesê sy het in 1995 uit diens getree weens swak gesondheid.
Haar man, Danie (45), is ’n depressielyer en die afgelope vier jaar werkloos.
Sy het ’n jaar lank ’n ongeskiktheidspensioen gekry en nooit weer daarna nie.
Sy het gister haar vorms vir die derde keer ingedien.
Sy het permanent pyn en wanneer sy aansoek om ’n voedselkoepon doen, hoor sy elke keer sy moet stad toe gaan daarvoor.
“Die mense verstaan nie ons het nie busgeld nie.”
Sy het gesê die mense wat in die 208 munisipale huisies in Wolmer woon, help mekaar oorleef deur die bietjie wat hulle het met mekaar te deel.
“Party dae het jy dalk net ’n bietjie botter, dan help iemand met ’n stukkie brood.”
Mnr. Henning Swart (60) het gesê hy was verlede week ook by ’n plek waar hulle kon aansoek doen, maar toe was al sy “papiere” nie reg nie.
“Ek hoop ek het nou als reg gedoen.”
Me. Elise Jansen (27) het met haar baba, Attie, op die skoot gewag om aansoek te doen om ’n welsynstoelae vir haar drie kinders.
Sy is ook werkloos.
Me. Hannetjie van Vuuren (56) hoop ook op uitkoms.
Sy het gesê hulle kry soms skenkings vir kos, maar “daar is net soveel kere dat mense ons beledig, verneder en wegjaag om op ’n ander plek te gaan bedel. Dit maak ’n mens seer en baie moedeloos.”
Me. Nicolene Visser (44) het gesê: “Ek kry nêrens werk nie en ek sukkel omdat ek glad nie kan Engels praat nie.”

Behoeftiges van Wolmer in die noorde van Pretoria staan gister tou om aansoek te doen om ’n welsynstoelae. Foto: Liza Hnatowicz