‘Ek kan Ngcuka baie verleë maak,’ sê Jackie Selebi glo
2009-11-17 22:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
“Hoekom laat vaar julle nie die saak teen Billy Rautenbach nie? Ek het ’n brief met bewerings in wat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en Bulelani Ngcuka baie verleë kan maak.”
So het mnr. Jackie Selebi, oudpolisiehoof, glo aan adv. Vusi Pikoli, voormalige NVG-hoof, gesê.
Dié verskuilde dreigement het geen reaksie van Pikoli ontlok nie, het die hooggeregshof in Johannesburg gister gehoor.
Pikoli het getuig hy wou van Selebi weet hoekom hy vra dat hulle aanklagte teen Rautenbach laat vaar. Hy het nie verder aandag aan die saak gegee nie. Ngcuka was sy voorganger as hoof van die NVG.
Volgens Selebi het Ngcuka ’n brief aan Rautenbach se prokureur geskryf waarin hy ’n omkoopmoontlikheid noem.
Mnr. Glenn Agliotti het vroeër getuig Rautenbach, die voormalige Hyundai-hoof in Suid-Afrika, het hom $1 miljoen gegee om Selebi te probeer omkoop om hom te help met sy probleme met die reg sodat hy van Zimbabwe na Suid-Afrika kon terugkeer.
Agliotti het getuig hy het Selebi $30 000 daarvan gegee, maar dat Selebi niks vir Rautenbach kon regkry nie.
Rautenbach sal môre in die Selebi-saak getuig. Hy het intussen met die NVG ’n pleitooreenkoms gesluit in verband met die aanklagte van bedrog teen hom.