‘Ek skuld Jan Taks niks nie,’ sê Malema
2010-03-09 22:44
“Arresteer my dan.”
So het mnr. Julius Malema, ANC-jeugligaleier, owerhede in sy toespraak gister voor studente by die Universiteit van Johannesburg se Doornfontein-kampus uitgedaag.
City Press het die naweek berig Malema het glo belasting ontduik. Hy het sedert sy verkiesing in 2008 tot leier van die ANC-jeugliga nie sy belastingopgawes ingedien nie en sy maatskappye word deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ondersoek, is berig.
“Daar is niemand wat my kan arresteer nie, want daar is niks wat ek verkeerd gedoen het nie,” het hy voor sowat 300 studente gesê.
Volgens Malema skuld hy Jan Taks niks.
“Julle het die reg, (mnr.) Pravin Gordhan (minister van finansies), SAID en al die owerhede, om in my (bank)rekening te kyk,” het hy gesê. “Ek gee julle toestemming om alles te vat wat in my rekening is en dit aan die armes te gee.”
Malema meen as hy R140 miljoen in regeringstenders gemaak het, kan daardie geld aan arm studente gaan.
Malema het herhaaldelik gesê hy betaal sy belasting.
“As ek aan enige misdaad skuldig is, arresteer my dan.”
Malema glo hy moenie onderworpe wees aan ’n “leefstyloudit” wat ingestel is “om sekere faksies te dien en spesifieke mense in die proses wil verwoes nie”.
Hy glo hy is net verantwoordbaar aan die “armstes van die armes” en “nie dié in Sandton nie ... hulle stem nie vir ons nie”.
Hy glo hy hoef nie vir sy maatskappye ’n sertifikaat van die SAID te kry wat bevestig al sy opgawes is op datum nie, want dié maatskappye is dormant.
Volgens hom wil sekeres die ANC-jeugliga muilband.
“As jy ’n slang suksesvol wil doodmaak, moet jy dit hard op die kop slaan,” het Malema gesê.
“En dit is wat hulle met my probeer.”