‘Geen gronde om Jaca te skors’
2011-09-30 23:14
Net omdat die Tshwane-metro bevind het dat daar nie gronde is nie vir die skorsing van dir. Ndumiso Jaca, adjunkhoof van die Tshwane-metropolisie, beteken dit nie dat hy skotvry is nie.
Só het me. Karen Meyer, DA-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Tshwane, gister gesê.
Volgens Meyer ondersoek die polisie, die onafhanklike klagtedirektoraat en die Gautengse verkeersdepartement klagte teen Jaca dat hy die Padverkeerswet oortree het.
“Die DA is nie verbaas oor dié bevinding nie, want as iemand in die munisipaliteit van korrupsie verdink word, word dit nog altyd onder die tafel ingevee. As die burgemeester ernstig was oor dié klagte teen Jaca, sou hy dat die metropolisie se teen-korrupsie-afdeling die saak ondersoek het. Dié eenheid is nooit genader nie.”
Mnr. Pieter de Necker, waarnemende kommunikasiehoof van Tshwane, het gesê volgens ’n verslag deur mnr. Jason Ngobeni, munisipale bestuurder, is daar “geen prima facie-bewyse dat enige van die raad se beleide of die ge- dragskode vir beamptes oortree is nie”.
Volgens De Necker is daar dus nie gronde vir skorsing nie. Die munisipaliteit het ’n administratiewe ondersoek ingestel, nie ’n strafregtelike een nie. As deel van die ondersoek het Jaca ’n verduideliking vir die bewerings teen hom gegee. Nóg die verslag nóg Jaca se verduideliking sal bekend gemaak word, het De Necker gesê.
Hy het gesê mnr. Kgosientso Ramokgopa, uitvoerende burgemeester, bestudeer die verslag nog sal volgende week ’n finale besluit daaroor neem.