Geldhoof skuldig aan wangedrag
2010-09-09 22:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die finansiële hoof van Noordwes se departement van openbare werke, paaie en vervoer is eergister in ’n tugverhoor skuldig bevind op 12 klagte van ernstige wangedrag.
Daar was 15 klagte teen mnr. Kwekwu Odame-Takyi.
Me. Maureen Modiselle, premier, het dié inligting eergister op ’n mediakonferensie in Mafikeng bekend gemaak.
Odame-Takyi se wangedrag hou verband met sy versuim om ongemagtigde, onreëlmatige en vermorste uitgawes en verliese te voorkom.
Mnr. Matshube Mfoloe, departementele woordvoerder, het in ’n verklaring gesê Odame-Takyi is tydens ’n tugverhoor onder meer daaraan skuldig bevind dat hy meer as R673,5 miljoen bestee het aan 19 kontrakte wat aan kontrakteurs toegestaan is, sonder dat daar ’n oop tenderproses was.
Hy is in Desember verlede jaar geskors hangende die uitslag van die tugverhoor.
Modiselle het ook op die mediakonferensie gesê die polisie is genader om strafregtelike klagte teen senior amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling te ondersoek.
Mnr. Philip Gumede, finansiële hoof van haar kantoor, is boonop gewaarsku om redes te verskaf hoekom hy nie ook hangende ’n ondersoek oor verdagte bestedingspatrone geskors moet word nie.
Die stappe teen Gumede is ingestel ná bewerings van wangedrag wat voortgespruit het uit ’n forensiese ondersoek na bestedingspatrone in die premierskantoor.