Gemeenskappe kla by LUR oor Fochville nie Engelse skole het
2010-03-17 22:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die gemeenskappe van die Fochville-omgewing het tydens ’n onlangse imbizo by me. Barbara Creecy, Gautengse LUR vir onderwys, gekla omdat daar geen skole is waar leerlinge in Engels onderrig kan word nie.
Dit is na aanleiding hiervan dat Creecy wil hê die drie Afrikaanse skole in die dorp moet dubbelmedium-onderrig gee, het mnr. Charles Phahlane, onderwyswoordvoerder, gesê.
Phahlane het gesê die onderwysowerhede het versoek om volgende week met die beheerliggame van die twee laerskole, Losberg en Fochville, en die Hoërskool Fochville te vergader.
Verteenwoordigers van die skole het gesê dit is te kort kennisgewing en het uitstel gevra.
Phahlane het gesê die departement wil niks op die skole afdwing nie en gaan met hulle gesprek voer om te kyk wat hulle nodig het om hul taalbeleid te wysig.
Hy het gesê volgens die departement se syfers is die besettingskoers van die laerskole 54% en van die hoërskool 79%.
Voorts moet 281 laerskool- en 186 hoërskoolleerlinge daagliks na skole in die Carletonville-omgewing ry om in Engels onderrig te word.
Me. Melanie Buys, Gautengse provinsiale bestuurder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wat die skole verteenwoordig, het gesê die informele nedersettings tussen Fochville en Carletonville het die afgelope vyf jaar voortdurend gegroei en die behoefte aan onderrig in Engels het drasties toegeneem.
“Ondanks dít het die departement die afgelope 15 jaar geen planne gemaak om meer skole te bou om in die toenemende behoefte te voorsien nie.”
Volgens Buys het die drie betrokke Afrikaanse skole nie die ruimte, kapasiteit of finansiële vermoë om die las van parallel- of dubbelmediumonderrig te dra nie.