Gesiene in landbou op sy plaas vermoor
2012-01-23 22:33
’n Boer en bekende in landboukringe is gisteroggend koelbloedig op sy wildplaas buite Roossenekal in Limpopo doodgeskiet.
Nadat mnr. Francois du Toit (38) geskiet is, het die aanvallers sy vrou, Eunice, en hul twee jong kinders met kabelbinders vasgebind.
Du Toit was ’n voedingskundige by Alzu Voere in Middelburg, Mpumalanga.
Hy en sy gesin het op die wildplaas sowat 30?km buite Roossenekal gewoon. Sy ouers woon in ’n ander huis op die plaas. Pa en seun het saam geboer.
Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê Du Toit het gisteroggend ná 01:00 iets buite die huis gehoor.
Hy het opgestaan om ’n pistool uit ’n kluis te haal.
Drie aanvallers het intussen in die huis ingekom. Dit is nog onduidelik presies waar en hoe hulle ingekom het.
Du Toit is in die maag geskiet.
Volgens Otto het hy glo teruggeskiet op die drie mans. Nie een van hulle is gewond nie.
Du Toit is daarna nog ’n keer agter die oor geskiet.
Die aanvallers het toe me. Du Toit, die egpaar se seun, Francois (12), en dogter, Stephanie (9), na ’n lapa buite die huis gevat.
Hul hande en voete is met kabelbinders vasgebind.
Die aanvallers het twee gewere, twee pistole, geld en selfone uit die huis gesteel.
Hulle het toe in Du Toit se twee Nissan Navaras gevlug. Die swaar gewonde mnr. Du Toit het toe nog gelewe.
Nadat hulle weg is, het me. Du Toit, terwyl sy vasgebind was, op die grond aangeskuifel tot waar sy ’n skerp voorwerp kon kry om haar los te sny.
Sy het die bure oor die tweerigtingradio ontbied.
Mnr. James Language was
van die boere wat eerste opgedaag het. Die bure het mnr. Du Toit in ’n voertuig probeer kry, maar hy is in hul arms dood, het ’n vriend gesê.
Language wou gister nie uitwei oor wat gebeur het nie.
’n Vriend van Du Toit wat nie genoem wil word nie, het gesê hy was baie betrokke by sy medemens. “Hy was ’n goeie, goeie mens. ’n Leier-boer,” het die man gesê.
Du Toit was veral bekend onder lede van die Melkprodusente-organisasie (MPO).
“Wat gebeur het, is verskriklik en baie hartseer,” het ’n boer wat daar naby boer gesê.
Volgens Otto het die aanvallers een van die Navaras op die plaas gelos.
Die ander voertuig is ’n ent van die plaas gekry. Dit is nie duidelik of hulle toe te voet gevlug en of makkers hulle opgelaai het nie.
Die polisie en boere het die gebied gister gefynkam.
Die Du Toit-familie was gister te geskok om met Beeld te praat. Niemand is nog teen druktyd aangekeer nie.