Gesteelde kind, ouers ná 13 j. saam
2012-01-25 21:44
Port Elizabeth. – Hy gaan al 24 jaar deur die lief en leed van polisiewerk. Maar níks vergelyk met dít wat kapt. Sandla Dlilisa gevoel het toe hy ’n gesteelde kind ná 13 jaar met haar ouers herenig het nie.
“Ek sê dit sonder om skaam te wees: Ek, die ouers én die kind het gehuil. Al die ou vroue van die gemeenskap was daar en hulle wou my nie toelaat om te ry nie voordat hulle gebid en God bedank het.
“Dis ’n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie,” het ’n steeds emosionele Dlilisa gister vertel.
Die verhaal begin in 1998, toe ’n familielid van me. Nokonga Ndaza, inwoner van die woonbuurt Centani, by haar aangekom het met die storie dat sy haar ses maande oue babadogter wil vat om vir die ouma te gaan wys.
Me. Ndaza het die kind goeder trou laat gaan, maar later besef sy is gesteel.
Sy en haar man, mnr. Thembinkosi Ndaza, is polisie toe, maar die saak is nooit behoorlik ondersoek nie.
Volgens Dlilisa het hulle daarin berus dat hul kind vir moetie-doeleindes gesteel is – tot in April 2011 jaar, toe me. Ndaza die kinderdief in Oos-Londen raakgeloop het.
Lede van die gemeenskap het haar gehelp om die verdagte aan te keer en aan die polisie uit te lewer.
Dlilisa sê die verdagte het gebieg dat sy die kind twee maande ná die diefstal in ’n stuk veld buite Durban gelos het.
Maatskaplike werkers het haar as agtjarige by pleegouers in Pietermaritzburg geplaas.
Dlidliza het hulle opgespoor en toe bloedmonsters van die kind en die biologiese ouers geneem.
Nadat die uitslae getoon het hulle is ongetwyfel bloedfamilie, het die polisieman ’n hofbevel verkry om haar in haar familie se sorg te plaas.
Hy het haar eergister met hulle herenig.
Volgens hom was sy én haar ouers baie senuagtig oor die herontmoeting, maar alles het goed afgeloop.
“Haar grootmaakouers het haar met ’n blye hart en ’n glimlag laat gaan. Hulle gaan beslis kontak hou en sy sal selfs gaan kuier.”
Me. Nolitha Siphondo, die verdagte, het al in die hof verskyn en bly in aanhouding.