Gestremde kind ry saam
2012-02-22 22:29
Hy sal aanhou fietsry en aan wedlope en driekamp deelneem totdat hy stokoud is omdat dit sy serebraal gestremde seun gelukkig maak.
So sê mnr. Kevin Garwood, wat saam met sy 13-jarige seun, Nicholas, in ’n pa-en-seunspan is wat hard aan die oefen is vir volgende maand se Argus-fietswedren in Kaapstad.
Dié twee durf groot sportkompetisies al sedert 2009 saam aan.
Hulle het vanjaar al aan sowat 30 deelgeneem.
“Hy hou baie daarvan. Hy moedig my aan en gesels graag met die ander deelnemers.
“Dit maak hom baie gelukkig en sy geluk is my motivering om aan te hou. Ek sal ophou deelneem wanneer hy dit nie meer geniet nie,” sê Garwood.
Hy en sy vrou, Cheryl, het 13 jaar gelede die nuus gekry dat hul ses maande oue baba by geboorte ’n breinbesering opgedoen het. Die dokter het Garwood aangeraai om Nicholas in ’n inrigting te sit omdat die seun nie na homself sal kan omsien nie. Die egpaar het egter besluit om hom so normaal moontlik groot te maak.
“Ek is so geraak deur die Hoyt-span in die DVD My Redeemer Lives. Daarin neem ’n Amerikaanse pa en sy gestremde seun aan baie wedlope deel,” sê Garwood.
Dié DVD wat hulle in 2009 gesien het, het hom en sy seun geïnspireer om dieselfde te doen. Hy het begin oefen.
Garwood oefen gewoonlik wanneer sy seun met sy tuisonderrig besig is.
Hul heel eerste wedloop was die 702 Walk the Talk in 2009.
Hulle het onder meer ook al deelgeneem aan die Dome na Dome-wedren, die Argus-fietswedren en die Ysterman-byeenkoms.
“Ons is tans besig om voor te berei vir die Argus,” sê Garwood.
Volgens hom is 110 km kinderspeletjies en hy en Nicholas het al verder oefenritte as dit onderneem.
Hulle is vanjaar lede van die I Play Fair-span saam met mnr. Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning.
“Ons groot droom is om aan die Ysterman-wêreldkampioenskap deel te neem.”

Kevin Garwood en sy seun Nicholas (13) op die WNNR-gronde in Pretoria aan die oefen vir die Cape Argus-fietswedren.