Greaver eerste burger van Polokwane
2010-09-09 22:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Polokwane (Pietersburg). – ’n Voormalige regeringswoordvoerder is eergistermiddag as die stad se nuwe burgemeester ingehuldig.
Mnr. Freddy Greaver volg mnr. Thabo Makunyane op.
Greaver was die afgelope twee jaar hoof van korporatiewe kommunikasie in die mynmaatskappy African Rainbow Minerals.
Hy was vantevore woordvoerder van die provinsiale tesourie in Limpopo en onderwysdepartement.
Greaver het aan die Polokwane Observer gesê hy beskou dienslewering aan die publiek as een van die belangrikste take wat hy moet verrig.
Makunyane het sy bedanking as burgemeester sowat twee weke gelede bekendgemaak.
Sy termyn as burgemeester sou vroeg volgende jaar verstryk het.
Hy was sedert 2000 in die amp.
Die stad se begroting is kort voor Makunyane se bedanking bekendgemaak en ’n tekort van R484 miljoen aangekondig.
Die nasionale en provinsiale regering skuld die stad R690 miljoen vir WB 2010-verwante projekte.