‘Grondsake ly oor korrupsie, onbevoegdes’
2012-02-10 22:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Korrupsie en onbevoegde amptenare is die vernaamste probleem in die grondhervormingsproses en nie die beginsel van gewillige koper/verkoper nie.
Dit was gister die reaksie van mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, nadat pres. Jacob Zuma eergisteraand in sy staatsrede gesê het die gewillige koper/verkoper-beginsel los nie die probleem op nie. Die proses is boonop te stadig, het Zuma gesê.
Möller het gesê hy kan nie verstaan hoekom die gewillige koper/verkoper-stelsel die skuld kry as dit andersins in die vryemarkstelsel goed werk nie.
Mnr. Athol Trollip, DA-woordvoerder oor landelike ontwikkeling en grondhervorming, het gesê Zuma moet sê waarom hy sê die beginsel werk nie.
Verwarring oor die regering se benadering van grondhervorming ondermyn werkskepping in landelike gebiede. Twyfel oor eiendomsreg skrik huidige en voornemende beleggers af, het Trollip gesê.
Dr. Pieter Mulder, VF+-leier en adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, het gesê Zuma se uitlating is kommerwekkend en gaan tot verdere onsekerheid onder beleggers lei.
Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, het gesê hy sal baie graag wil weet waar Zuma daaraan kom dat net 8% van grond as deel van die grondhervormingsproses aan swart mense oorgedra is.
“In ’n studie wat die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika al in 2006 namens die regering gedoen het, is bevind 63% van die grond in die land is in die besit van die staat, swart mense, bruin mense en Indiërs.”