Gróót koste ná Vaatjie se dood
2012-02-07 22:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Mnr. Chris “Vaatjie” Labuschagne (48) se familie weet steeds nie of hy begrawe of veras gaan word nie.
Labuschagne, wat uiters oorgewig was, is Vrydag in die Kalafong-hospitaal in Pretoria dood.
Hy het bykans 550 kg geweeg en moes Donderdag deur 11 brandweermanne op ’n seil uit sy huis op ’n kleinhoewe in Erasmia gesleep word om hom by die hospitaal te kry.
Hy is die volgende dag aan ’n onbekende kwaal in die hospitaal dood. Hy was al drie jaar bedlêend.
“Om ’n sogenaamde ‘ekstra-ekstra-groot’ kis te kry, gaan baie duur wees. Die meeste verassingsoonde is boonop te klein. Ons het darem al met ’n klomp begrafnisondernemers gepraat en hoop om môre (vandag) te besluit,” het mnr. Lappies Labuschagne (62), ’n oom van Vaatjie, gister gesê.
Labuschagne se lyk, wat te groot was vir die yskaste in die Kalafong-hospitaal, is gister van ’n lykhuis in Ga-Rankuwa na een in Lenasia geneem omdat ’n begrafnisondernemer daar meen hy het ’n groot genoeg verassingsoond.
“Standaard-verassingsoonde is 90?cm breed, wat te klein is. Hierdie ou sê hy het ’n ‘oop’ verassingsoond en dat Vaatjie daarin sal pas,” het Lappies Labuschagne gesê.
’n Lid van die publiek het ’n hyskraan aan die familie beskikbaar gestel as hulle besluit om Vaatjie eerder in ’n spesiale kis te begrawe.
“Wat ook al ons besluit, dit gaan vrek duur wees. Ons aanvaar maar al die hulp wat ons kan kry.”
Vaatjie het as ’n tegnikus vir Krygkor gewerk totdat hy sowat sewe jaar gelede ’n skeidingspakket aangebied is.
“Hulle het hom gevra om terug te kom, maar kort daarna het sy bene ingegee en kon hy weens sy gewig nie meer werk nie,” het mnr. Buks Hendriks, ’n neef van Labuschagne, gister gesê.
Daarna het sy vrou, Cecile (46), en sy dogter, Cecile jr. (25), wat albei medies ongeskik verklaar is, op die kleinhoewe alleen na hom begin omsien.
“Hulle het net van ’n ongeskiktheidspensioen geleef,” het Hendriks gesê.
Labuschagne en sy vrou was sowat 28 jaar getroud.
“Cecile en haar dogter sal vir eers by Cecile se broer gaan bly totdat ons vir hulle ’n heenkome kan vind.”
Labuschagne, wat glo sy hele lewe lank” aan vetsug gely het, se pa is twee jaar gelede oorlede. Weens sy vetsug kon hy die begrafnis nie bywoon nie. Sy ma was gister van Kaapstad af na Pretoria op pad.
- Labuschagne se roudiens sal Saterdagoggend in die Charisma-kerk in Thaba Tshwane gehou word.

Mnr. Chris (Vaatjie) Labuschagne (48).