Grootjie met ’n serp verwurg
2010-07-12 22:25
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Wolmaransstad. – ’n Oumagrootjie is verlede week vasgebind en dood in haar huis aangetref nadat sy op haar hoewe buite dié delwersdorp in Noordwes oorval en volgens die polisie vermoedelik met ’n serp verwurg is.
Toe familielede verlede Sondagaand op mev. Hannie Smit (77) se lyk afgekom het, was sy op ’n stoel in die sitkamer vasgebind.
Cheeky, haar worshondjie, het ongedeerd op die vloer langs haar gelê.
“Dis moeilik om my ma in een sin op te som. Sy het altyd vir ander omgegee, altyd gesê die wraak kom ons nie toe nie en ek is doodseker as daar een mens is wat in die hemel is, is dit sy,” het mnr. Daniel Smit (37) van Witrivier gister gesê.
Sy ma het byna 35 jaar op die hoewe gewoon.
Mev. Smit se bankstate dui aan dat sy Sondag in die middagetensuur inkopies in die plaaslike Spar gedoen het waarna sy terug huis toe is.
Niemand het haar daarna weer lewend gesien nie.
“Ek bel altyd op ’n Sondagaand om te hoor hoe dit met haar gaan en te gesels.
Ek het omstreeks sesuur gebel, maar daar was nie antwoord nie.
Ek kon nie op die landlyn of selfoon antwoord kry nie.
“Ek het later my suster Marianne gebel en sy het iemand wat altyd los werkies en instandhoudingswerk by my ma se huis gedoen het, gestuur om te gaan kyk wat fout is,’’ het mnr. Smit gesê.
Hy het gesê haar aanvaller(s) het waarskynlik deur ’n venster geklim.
“My ma se hande en voete was aan ’n stoel vasgebind en sy het serpe aan haar kop en nek gehad.’’
Volgens ’n familielid het sy geen letsels aan haar lyf gehad nie.
Mnr. Smit het gesê die hele familie is woedend.
“Dis beter dat ek in dié stadium eerder my gedagtes vir myself hou.”
Hy het sy ma as selfversorgend bestempel en gesê sy het nog haar tuin versorg en self natgespuit.
Sy het talle vriendinne gehad saam met wie sy graag gekuier het en wou nie die hoewe verlaat om in ’n versorgingsoord te gaan woon nie.
“Dit is so onaanvaarbaar. Daar is diegene wat daarmee te koop loop dat daar geen plaasmoorde tydens die
Wêreldbekertoernooi was nie. Dis twak.
“My ma sou niemand skade aandoen nie. Sy sou hulle gegee het net wat hulle wou hê. Sy sou hulle ook mooi gevra het om haar nie dood te maak nie. Sy was fisiek nie sterk nie, sy was al oud.”
Haar aanvaller(s) het in die dae ná die moord verskeie kere in onder meer Klerksdorp geld getrek met mev. Smit se bankkaart.
Kapt. Adele Myburgh, provinsiale woordvoerder, het die aanval bevestig en gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Mev. Smit word oorleef deur twee seuns, drie dogters, 11 kleinkinders en een agterkleinkind.
Sy word vandag om 11:00 uit die Pinkster Protestante Kerk in Wolmaransstad begrawe.