Hawking-‘hel’: SA digter vertel
2010-06-30 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Suid-Afrikaanse digter was “doodsbenoud” dat die bekende fisikus Stephen Hawking in haar sorg sou versmoor.
Carina Stander, skrywer van onder meer woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009), skryf op versindaba.co.za hoe sy Hawking ’n paar jaar gelede versorg het.
“Ek het in Cambridge gewoon toe ek hoor hy soek ’n nuwe persoonlike versorger.
Oud-inwoners het gewaarsku dat dié fisikus ewe bekend is vir sy boeke as vir befoeterdheid, maar o wee, my nuuskierigheidsklier werk ooraktief en ek het besluit om hom te versorg.”
Volgens Stander het hulle een Saterdagaand gaan fliek – “’n galgekomedie waarvan ek die naam nie kan onthou nie”.
In een toneel moes die twee hoofkarakters hul maat se as oor die see strooi toe die wind die as skep en dit in hul gesigte waai sodat lang, grys spoegslierte uit hul monde trek.
“Hawking het nie gelag nie, hy het geskater.
Geluidloos, gesig vertrek van plesier, sodat ek doodsbenoud om hom moes trippel, sy kop onder my arm vasgeklem, besig om sy lugpyp met die apparaatjie skoon te suig.
“Sê nou hy versmoor? Sê nou hy lag hom morsdood? Ek kon die koerantopskrifte al sien. Wie laaste lag ...”
Ander kere was dit ook “amper-stamper of hy’s permanent sekelmaan toe”, skryf Stander.
“Sien, Hawking is ’n roekelose helsem met ’n voorliefde om sy rolstoel oor dolbesige keisteenstrate te woerts-warts terwyl die karre om hom toet asof dit Nuwejaar is en sy oppassers met vertikale hare agter hom aanhol.
Verkeersreëls? ‘Obviously only for the lame and the lazy.’”
In die begin was sy so bewerig dat sy toe sy eenmaal Hawking se ritssluiter in die badkamer moes optrek per ongeluk “sy privaatjie vasge‘zip’ het”.
“Kon nie mooi verstaan wat’s hy tog so halsstarrig om stil te sit nie, tot ek afkyk met ’n: ‘O bother! How horrid! Would the world ever forgive me for messing with these genes?’”
Maar Hawking se “thumbs up” en beleefde laggie onthou sy.