Henning-moordenaar kry 15 j. vir korrupsie
2012-02-21 22:53
Die man wat me. Chanélle Henning geskiet het, is gister tot nog 15 jaar tronkstraf gevonnis op ’n aanklag van korrupsie.
Gerhardus Petrus du Plessis gaan dié vonnis samelopend met die 18 jaar tronkstraf weens Henning se moord uitdien.
Du Plessis is in Desember saam met Willem Martinus Pieterse ingevolge ’n pleitooreenkoms weens Henning se moord gevonnis. Sy is op 8 November 2011 geskiet.
Du Plessis, ’n konstabel van die Hercules-polisiestasie in die weste van Pretoria, is egter reeds voor dit gearresteer op ’n aanklag van korrupsie.
Hy was uit op borgtog van R2 000 toe hy Henning van agter op Pieterse se motorfiets geskiet het.
Hy het gister in die Pretoriase handelshof – ook ingevolge ’n pleitooreenkoms – skuld op die korrupsie-aanklag beken.
Dit hou verband met die moord op ’n mnr. Trymore Ziriri in September 2010.
’n Week later is mnr. Frederick Chrisjan Olivier weens Ziriri se moord gearresteer.
Luidens die pleitooreenkoms het Olivier tussen Junie en Augustus 2011 vir Du Plessis R10 000 aangebied om die moorddossier vir hom te steel.
“Die dossier was tydens die naweek van 13-14 Augustus op die ondersoekbeampte se tafel in die polisiestasie. Toegang tot dié afdeling kon slegs deur ’n geslote hek verkry word.
“Die beskuldigde (Du Plessis) het onder valse voorwendsels die heksleutel bekom, die kantoor binnegegaan en die dossier verwyder,” het die pleitooreenkoms gelui.
Du Plessis het die dossier aan Olivier oorhandig en die ooreengekome R10 000 is in paaiemente aan hom betaal.