Heup én vorm pla IVP se Koos
2010-03-18 23:16
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Mnr. Koos van der Merwe, IVP-hoofsweep, weier om by die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria-Oos opgeneem te word vir ’n heupvervangingsoperasie omdat die hospitaal se opnamevorms net in Engels beskikbaar is.
Van der Merwe is die laaste paar dae in ’n rusie met die hospitaal betrokke omdat hy meen sy taalregte word misken.
Hy het vandeesweek gesê hy het al die mediese toetse ondergaan vir die operasie en sou oormôre opgeneem en Maandag geopereer word.
Sy dokter opereer glo net by die Wilgers en nie by ander Pretoriase hospitale waarvan sommige glo wel Afrikaanse opnamevorms het nie.
“Ek het ’n Afrikaanse vorm geëis, maar hulle het gesê hulle kan my net opneem as ek die Engelse een onderteken. Dit is glo ’n besluit van Life se hoofkantoor. Ek het geweier om dit te onderteken.
“Ek voel verneder omdat ek as Afrikaner wat siek is en in pyn, nie in die taal van my keuse opgeneem kan word nie,” het Van der Merwe gesê.
AfriForum het intussen ’n brief oor die kwessie aan die Life-groep geskryf waarin hy dreig om Life by taalrade aan te gee. AfriForum meen die hospitaal is in ’n Afrikaanse gemeenskap geleë en behoort mense in Afrikaans te help.
Me. Marietjie Shelly, kommunikasiebestuurder van Life, het gister bevestig die opnamevorms is slegs in Engels beskikbaar, maar dat daar geen wetlike plig is om sulke vorms in alle landstale beskikbaar te stel nie.
“Desnieteenstaande het ons groep al ’n paar maande gelede met ’n proses begin om die vorm in verskeie tale – Afrikaans, Zoeloe, Xhosa en Tswana – aan pasiënte beskikbaar te stel.”
Volgens Shelly moet sekere infrastruktuur- en administratiewe strukture gereed wees om dit te kan doen. “Ons verwag dat die proses binne ’n paar maande afgehandel sal wees.”
Shelly het gesê Life hoop Van der Merwe sal besluit om tog sy prosedure by die Wilgers te laat doen.
“Dit bly egter pasiënte se keuse na watter hospitaal hulle gaan en wat na hul mening die beste aan hul verskeidenheid behoeftes sal kan voldoen.”
Van der Merwe wou die vorm self laat vertaal, maar die hospitaal het glo gesê sy vertaalde weergawe kan nie aanvaar word nie.