Hollandse politikus in spervuur
2012-02-21 22:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het dit aan die konserwatiewe Nederlandse politikus mnr. Martin Bosma duidelik gemaak dat sy Nederlandse Partij voor de Vrijheid (PVV) se houding teenoor Moslems nie vir die ATR aanvaarbaar is nie.
Volgens dr. Michael le Cordeur, voorsitter van die ATR, het prof. Wannie Carstens, ondervoorsitter, tydens ’n vergadering in Pretoria aan Bosma gesê baie Afrikaanssprekendes is Moslems.
Die PVV se leier, mnr. Geert Wilders, is bekend om sy haatdraende uitlatings jeens Moslems.
Bosma is die voorsitter van die Nederlandse parlementêre taalunie wat hom as ’n vriend van Afrikaans beskou.
Dr. Danie Langer, uitvoerende hoof van die FAK, het gistermiddag ontken Bosma is op uitnodiging van dié organisasie in die land. Hy het gesê Bosma is op ’n private besoek.
Die FAK is geen vriend van die PVV nie, maar is gevra om vir hom ’n paar afsprake met rolspelers in die Afrikaanse wêreld in die Pretoria-omgewing te reël, het Langer gesê.
Le Cordeur het gesê die toekoms van Afrikaans is in die hande van sy sprekers, en “nie van politici wat ons wil misbruik vir hul eie doelwitte nie”.
Volgens hom het Carstens aan Bosma gesê “Afrikaans is nie gelyk aan Afrikaners nie”, dat ’n groot deel van die sprekers van Afrikaans bruin en swart is, wat Moslems insluit.
“Sy party se houding teenoor ’n minderheidsgroep (Moslems) is nie vir die ATR aanvaarbaar nie.
“Hy weet nou waar hy met ons staan, en ek is seker dis die laaste wat ons van hom sal sien,” het Le Cordeur gesê.
“Dis beter dat hy die regte boodskap by die ATR kry en nie ’n verdraaide boodskap by ander individue wat bybedoelings het met Afrikaans nie.”
Langer het gesê hy steun die ATR se standpunt heelhartig.
Dit was volgens hom belangrik om Bosma te help omdat die Nederlandse parlementêre taalunie een van die belangrikste voertuie in Nederland is om deure vir Afrikaanse organisasies in die Lae Lande te help oopmaak.
“Ek het doelbewus die afsprake met organisasies en individue só gereël dat dit die breedste spektrum moontlik in die kortste beskikbare tyd verteenwoordig.
“Dit het ook privaat geskied sodat organisasies hul standpunte reguit en duidelik kon stel.”
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, het gesê hy is gekant teen dié soort besoeke omdat dit net verdere konflik veroorsaak.
Lees ook Beeld se hoofartikel oor die onderwerp.