Hoogste hof grom oor regsmense se rekeninge
2010-02-08 00:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die 11 regters van die konstitusionele hof het Vrydag hul gesamentlike stem dik gemaak teen praktiserende regslui wat hul regsrekeninge opblaas.
In ’n uitspraak ná klagtes oor die regsrekening van ’n advokaat in ’n appèlaansoek wat in die konstitusionele hof oorweeg is, sê die regters takseermeesters wat regslui se rekeninge takseer en goed- of afkeur, moet die beginsel onthou dat “redelike vergoeding toegestaan moet word vir werk wat noodsaaklik is en wat behoorlik gedoen is”.
In hul uitspraak het die regters gesê die advokaat in die geding voor hulle het ’n verklaring van 61 bladsye opgestel en aangedui dat hy 61 uur, teen R1 200 per uur, aan die verklaring gewerk het.
“Die advokaat het nie redelik opgetree nie.”
Die regters het gesê die verklaring kon in 20 uur afgehandel gewees het.
Die advokaat het aanvanklik R111 264 vir die opstel van die verklaring geëis, maar die takseermeester van die konstitusionele hof het net R73 200 toegelaat.
Die regters het gesê dit is steeds heeltemal te veel en het die advokaat se vergoeding verminder tot R24 000.