Inwoners span saam, jag rowers
2012-02-06 08:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Vier rowers het ’n winkel op die verkeerde plek op die verkeerde tyd beroof.
’n
Hoewegemeenskap noord van Pretoria wat moeg is vir misdaad, het die
rowers binne ’n paar uur saam met ’n oud-spoorsnyer van die weermag en
’n oudlid van die polisie se taakmag vasgetrek.
Tientalle bakkies met hoewebewoners – sommige beweer tot 70 bakkies – in die omgewing van Wallmanstal het die rowers gejag.
Dié omgewing is die laaste paar weke deur misdaad geteister nadat ’n onwettige plakkerskamp daar opgeskiet het.
Eergistermiddag
omstreeks 16:00 het vier gewapende mans die P.B. Algemene Handelaars in
Vasfontein van drank, kontant, selfone en ’n skootrekenaar beroof
voordat twee van hulle in ’n werker se Volkswagen Golf weggekom het.
Die ander twee het gevlug in ’n Nissan 1400-bakkie waarmee hulle daar aangekom het.
Die
werker het die veiligheidsmaatskappy se noodknoppie gedruk. Die nuus
oor die rooftog het soos ’n veldbrand deur die gemeenskap versprei.
Mnr. Peet Dorfling (49), ’n oud-spoorsnyer van die weermag, was een van die hoewebewoners wat gereageer het.
Volgens
Snyders het iemand die Golf sien wegjaag van die winkel af. Hy, saam
met veiligheidswagte wat daar aangekom het, het die motor agternagesit.
Die Golf se teenkapingstelsel het die motor sowat 5 km verder tot stilstand gebring. Die mans het die bosse in gehardloop.
Snyders het mnr. Mike van der Westhuizen (43), ’n oudpolisieman wat lid van die taakmag was, gebel.
Tientalle bakkies met hoewebewoners het hulle soontoe gehaas en strate aan die ooste en weste van die Apiesrivier afgesper.
Snyders en Van der Westhuizen het na die mans begin soek.
Die bos langs die Apiesrivier is onherbergsaam en ruig.
Teen skemer het hulle ’n spoor gekry, maar dié het teen die Apiesrivier doodgeloop.
Van
der Westhuizen het op die oewer geflits en die mans onder ’n rietbos
gesien lê. Hy het een van hulle uit die bos gesleep, sy vuurwapen geneem
en hom deurgesoek.
“Hy het in die water gespring om weg te hardloop,” het Van der Westhuizen gesê.
“Peet is agterna. Ons het hom uiteindelik uit die water gekry en geboei.”
Nadat die ander rower ook uit die bos gesleep, ontwapen en deurgesoek is, het hy ook in die water gespring.
“Die water is swart van die rioolvuil en jy kan nie staan nie. Ek was borshoogte in die water,” het Dorfling gesê.
“Dit was ’n gesukkel om hom uit te kry, want hy het amper verdrink. Ons het hom aan sy belt uitgesleep.”
Volgens Dorfling het dié twee die polisie na hul twee makkers in Soshanguve,
noordwes van Pretoria, geneem. Al die gesteelde goedere is teruggekry.
Dorfling het gesê dié arrestasies is te danke aan samewerking van die
gemeenskap, wat self iets omtrent die misdaad begin doen het.
“Ons
kry nie veel samewerking van die polisie nie. Ons is op onsself
aangewese, maar ons is ’n gemeenskap wat hande vat en mekaar help,” het
hy gesê.
Lt.kol. Tshisikhawe Ndou, Gautengse polisiewoordvoerder,
het bevestig dat die vier mans vandag op aanklagte van ’n rooftog by ’n
sakeonderneming en die besit van vermoedelik gesteelde goedere in die
hof sal verskyn.