Verbrande vulstasie-baas steeds kritiek
2011-03-07 13:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die bestuurder van die vulstasie wat 95%-brandwonde opgedoen het toe 'n petroljoggie 'n petrolbom in sy kantoor gegooi het, veg Maandag steeds om sy lewe.
Mnr. Jaco Rossouw se familie is by hom in die Muelmed-hospitaal in Pretoria.
Beeld het Maandagoggend berig Rossouw, bestuurder van die Kranskop-vulstasie langs die N1-hoofweg naby Modimolle (Nylstroom) in Limpopo, veg om sy lewe nadat ’n beswaarde petroljoggie gisteroggend ’n petrolbom in sy kantoor gegooi het.
Rossouw (34), ’n mede-eienaar van die vulstasie op die N1-suid, wasgister in ’n kritieke toestand in die Muelmed-hospitaal in Pretoria nadat hy 95% brandwonde opgedoen het.
Die petroljoggie het die petrolbom deur Rossouw se kantoorvenster gegooi en het self brandwonde aan sy arms opgedoen.
Hy word onder polisiebewaking in ’n hospitaal behandel.
Geskokte motoriste by die vulstasie het die vlamme op Rossouw se liggaam met ’n brandblusser geblus.
Hy is gistermiddag per helikopter van die provinsiale hospitaal in Bela-Bela (Warmbad) na die Muelmed-hospitaal in Pretoria gevlieg.
Mnr. Mark Harper, ’n vriend, het teen druktyd gesê dit gaan “baie sleg met hom.
Die dokters bring net slegte nuus, maar ons glo en vertrou dat God ’n wonderwerk sal doen.”
Chaos het gister omstreeks 09:00 by die besige vulstasie langs die N1 uitgebreek en talle motoriste moes geskok toekyk hoe die erg beseerde Rossouw deur paramedici behandel word.
Die petroljoggie en Rossouw het glo ’n onderonsie gehad.
Dit is nie bekend waaroor nie.
Van die ander petroljoggies het gesê Rossouw het die man glo afgedank.
Lt.kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het gesê die petroljoggie het ná die rusie petrol in ’n bottel gegooi, dit aan die brand gesteek en deur die venster van die kantoor by die vulstasie gegooi.
Me. Natasja Kotze was gisteroggend op pad terug van Polokwane na Meyerton toe sy by die vulstasie stilgehou het.
“’n Mens dink nooit jy sal so iets beleef nie. Dit was baie erg om te sien.”
Volgens Kotze het hulle gesien hoe die erg verbrande Rossouw buite die kantoordeel van die vulstasie deur nooddienswerkers behandel word.
Hulle het ook die petroljoggie in ’n polisievangwa gesien.
Volgens Kotze het van die petroljoggies vir hulle gesê hul kollega het vroeër gisteroggend glo gedreig om petrol deur Rossouw se kantoorvenster te gooi.
“Hulle het hom toe gekeer en gesê hulle het nie later gesien toe hy petrol in die bottel gooi nie.”
Mnr. Trompie Jonker van Tromar-private ambulansdienste het gesê die brandblusser wat omstanders gebruik het om die brand op Rossouw se lyf te blus, het veroorsaak dat hy van die poeier wat die blusser gespuit het, ingeasem het.
Dit het sy longe ook erg beskadig.
Rossouw het opgehou asemhaal terwyl nooddienswerkers van Tromar, sowel as die provinsiale ambulansdienste, hom behandel het.
“Sy hare, wimpers en bykans al sy vel het afgebrand. Sy longe en lugpyp is ook beskadig deur die rook wat hy ingeasem het,” het Jonker gesê.
Ledwaba het gesê die joggie sal vandeesweek op aanklagte van poging tot moord, brandstigting en diefstal van petrol in die hof verskyn.
Rossouw en sy vrou, Edna, woon in Bela-Bela. Hulle het twee jong kinders, Ruben (4) en Emma (2).
Mev. Rossouw was gisteraand by haar man in die hospitaal.
Op mev. Rossouw se Facebook-blad het sy op 7 Februarie geskryf: “7 wonderlike jare saam my man! Jy’s ’n geskenk uit God se hand vir my en die kinders! Kon nie vir ’n beter man gevra het nie!! Lief jou baie xx.”

Omstanders drom gisteroggend saam om die erg beseerde mnr. Jaco Rossouw nadat ’n petroljoggie ’n petrolbom by sy kantoor ingegooi het.